About Letty-Ann

Ek is mal oor mense en woorde.

Biep-biep,Karibib!

Ouch!
Spoedlokval net  30 km buite Karibib.  😦
135 gery in ‘n 120 kmph zone. Dis ‘n boete van N$1750.  :-0
Die grootste dilemma is dat die boete slegs op Karibib betaal kan word en ons is oppad grens toe, huistoe, Suid-Afrika toe.
Nadat alle opsies (behalwe die heen-en-weer Karibib-rit) oorweeg is, vra die spietkop “How old are you?” en my gryskopman antwoord eerlik, “Sixty-four”.
“Then you can go!”
Sjoe! WAT ‘N GENADE!!
By die kar tref dit my dat ‘n mens mos die kar se spoed kan stel op bv 120 kmph…ons doen dit en siedaar, ons ry lag-lag sonder voete op die pedale dwarsdeur die volgende lokval en dít teen ‘n konstante 120 kilometer per uur!
So het dit gekom dat manlief óók sy ‘close shave’ oorleef het EN NOU IS ONS KIETS!
(Ek verwys nou na my blapsie in die antiekwinkel).

Osona-basis, Okahandja

Dit was die jaar 1986. Osona-basis, Okahandja. Twee hardebaard dienspligtiges wat wagstaan…deurnag.

“Hoe bly ‘n mens heelnag wakker?”, vra die een.

Gelukkig is sy wagstaanmaat ‘n sielkundige met die voordiehandliggende oplossing:

“Dis maklik! Kan jy onthou wanneer jy die eerste keer ‘n lemoen geëet het?!”

Hierdie stukkie Sielkunde het gewerk!

Hierdie storie het ek vele male gehoor en toe, vanoggend, uit die bloute! wil die man by die koffietafel langs ons by my weet wat ons ván is, ” want julle lyk so bekend”. My man staan nader en net daar drop die pennie…hý is die sielkundige wat destyds wou weet van die eerste lemoen.

Ek glo ons gaan hulle weer sien want hulle kom doen gereeld aankope in die Kaap en slaap as ‘n reël op Bredasdorp (ons dorp) oor.

Tjankie word Dankie!

Ons het albei ons selfone gestel…hierdie keer doen ons dit reg.  Ons eerste probeerslag, ‘n week gelede, was ‘n algehele fiasko!
Hierdie keer was dit net die klein tjankie en haar oupa en ouma.
En…dit het rasend goed gegaan!!
Natuurlik was daar ‘n sarsie trane, maar dit was gou-gou vergete toe ouma begin storielees en oupa met ‘n groot fanfare die suksesresep van ‘n braaitangkontrepsie aan ‘n verlengingskoord uitgewerk het om die bal – wat op die balkon onder ons geval het – te “gaan haal”.  Die hele operasie is op video…so ook die luidkeelse toejuiging van die tuisskare.
Die mamma se kommentaar skuins voor slaaptyd:
“[01/04, 20:41] syt haarself gate uit geniet vandag 😄
[01/04, 20:41] syt sommer maklik uitgepaas na haar bad”.
Musiek in die stokflou (maar hoogs tevrede) grootouers se ore.  Ons het inderdaad ‘n besige dag agter die rug…
– storielees
– doeke en pottie en snacks en kos
– breinaald pick-up-sticks
– liedjies sing en rondspring
– wasgoed en skottelgoed was om die kids te verras
– middagkos! (genoeg vir vanaand)
– stap langs die see sodat die asjassie ‘n natuurlike middagslapie slaap
– huis-huis speel
-operasie bal red
(Dalk moet ek ophou opsê wat ons alles gedoen het want Pa Dana het altyd gesê, “as jy kan opnoem wat jy alles gedoen het, het jy nog nie genoeg gedoen nie!”)

Vir Oulaas

Enige toeris is voor sy vertrek op die souvenir-jag uit. Ons het ook vandag ‘vir oulaas’ gaan goetertjies soek. Nie sommer in enige ou winkel nie – in ‘n antiekwinkel.

Elke mooi ding is afgehaal en omgedop, nie soseer om sy porseleinstempels te sien nie, op soek na sy prys!

Dit was in hierdie delikate proses wat ek per ongeluk die onaardigste swart-en-wit buisblompot afgestamp het. Natuurlik het ‘n swart skerf afgebreek. Toe ek dit omdop vir die prys (NAM$500) merk ek die porseleinstempels -soortgelyk aan dié van die vioolspelertjie in die foto hierbo!

Gelukkig het ek lig daarvan afgekom. Ek het ‘n ander (effe beskadigde) beeldjie gekoop en dít vir NAM$50. DIT WAS NAM$65 MAAR DIE VERKOOPSMAN HET NIE KLEINGELD VIR R100 GEHAD NIE…DIT NOEM MENS ‘N ‘BILLIK’ of moet ek eintlik sê ‘A CLOSE SHAVE?!’

Enige Verskoning vir ‘n Braai

Dis in die middel van die week in die middel van die vakansie en ons besluit in die middel van die dag om by die middelkind (my vriendin,BB) te gaan braai.

Suid-Afrikaners/oud-Suid-Westers laat hulle nie twee maal nooi nie. Enige verskoning vir ‘n braai! Of dit nou ‘n houtvuur in die veld of ‘n draagbare staalaffêrinkie onder die afdak is, braai sal ons BRAAI.

Natuurlik volunteer al die partye om die vleis, brood en slaai te voorsien maar die Swakopmunder wen en sonder ‘n vreeslike ommehaal van woorde het die spannetjie die pootjies uitgeskroef en opgeslaan gekry en is daar op hierdie perfekte aand sosaties en steaks gebraai.

‘n Mens moet nooit die gawe van gasvryheid onderskat nie. Ons ry eers die einde van die week terug huistoe en ek voel al klaar die heimwee.

Tinktinkietyd!

Dit was die jaar 2011. ‘n Leeskringvriendin het met ‘n handjievol boeke ateljee toe gekom. Boeke wat haar vriendin geskryf het wat Radio Overberg fm op Tinktinkietyd mag voorlees. Ek was in ekstase!

En vandag sit my kleinkind uit een van daardie boeke en lees…nouwel op haar manier maar sy verstaan presies wat Heleen Oosthuizen sê.

Hollywood Lodge

Ons ry ietwat skrikkerig die dorp binne.  Goeie genade! Dis ‘n sendingdorpie! Die Morawiese klipkerk is ‘n prominente baken.  Hoërskoolkinders hang in die voorportaal van die skoolsaal rond.  ‘n Ou in ‘n bakkie ref hom hoog elke keer wat hy by die meisies verby jaag en iewers bondel ‘n klomp jongmense om ‘n kar met harde luidsprekers saam.
Holiday Lodge is ‘n klipgooi van die netjiese polisiestasie en agter die motorhek staan ‘n blink motor geparkeer.  Dit lyk na veilige parkering, dink ons verlig terwyl ons die eerste winkel, later skool, toe danssaal, daarna ‘n woonhuis en nou ‘n gastehuis nader.

By die veiligheidshek by die voorstoep is ‘n kennisgewing oor verpligte maskers en sanitering en Letitia Louw stap ons met ‘n welkom glimlag tegemoet met ‘n ” Welkom by Hollywood Lodge!”


Ons kamer loop uit die stoep en is reg langs die eetkamer waar ons vars slaai en roosterkoek gereed staan.ie Braaivleis, wat ons bestel het, kom nou.
So kom dit dat ons die aand op Steinkopf eet en stap en stort en slaap.

Daar is ander gaste ook. Hulle slaap in die gastekamers wat eers skoolklassies was.  Hulle kom laat in want hulle is hier vir ‘n troue.
Ons het – met die aanry na die gastehuis -‘n man iets luidrugtig vir ‘n vrou hoor skree en het gewonder of ons die aand geslaap gaan kry.  Ons was verniet benoud.  Teen 8 uur die aand was die dorp stil.  Selfs die honde het geslaap. Ons het rustig geslaap in die bont vertrek en Letitia ken haar storie.  Sy het ons van die plek se ontstaan en die rol van haar voorgeslagte, Duitsers en Namas, vertel en ons met plattelandse gasvryheid oorlaai.
Steinkopf, ons kom weer.

Hier is ons tuis

Die laaste been van ons vakansie in Swakopmund het ons in kamer 7, Fischreiher gastehuis in Fischreiherstraat geslaap en soggens ontbyt geëet. Dis die eerste gastehuis waar die gaste mekaar hartlik gegroet het, touwys gemaak het met die broodrooster en voorspoed vir die nuwe jaar toegewens het. Hier voel ons tuis.

Die personeel “run a tight ship” en bly op koers.

Ek het gewonder hoe die eienaars lyk en toe Tienie van Rensburg vanoggend die rekenaar inbring het ek hom dadelik geëien. Hy het met gemoedelikheid na ons ontbyttafel gestap, ‘n covid-vuisgroet gegroet en gesê, “Is dít nou die Möllers!”

Oase in die Maanlandskap

Met 3 motors en uit 4 windrigtings ontmoet ons in Swakopmund. Ons het gister reeds ‘n buffet vir 8 bespreek by die populêre oase in die maanlandskap 35 min se ry van Swakop af. Ook maar goed so want die eetplek onder die doringbome was stampvol (die opskepskottels vir ons buffet ook).

Maar wat is die storie agter die storie? Ek het gou ge-google…

Vandag is daar o.a. ‘n uitkampplek, restaurant en dieretuin. Die eienaars gradeer telkens op en droom groot. Hulle is op die terrein om seker te maak almal kuier lekker. En hét ons lekker gekuier!

So tussen die werfhoenders en tarentale, die kampies en krale, llamas, alpakkas, volstruise, kalkoene, eende en ponies het die kinders eerstehands dieregeluide gehoor.

Die kaskarre, klimrame en swaaie het die kinders besig gehou terwyl die grootmense kwetter en kuier en kou.

Jetty 1905

Ons was gisteraand té laat om die oujaar hier by Jetty 1905 uit te gaan maar betyds om ‘n tafel vir Nuwejaar te bespreek!

So amper het die tafel deur ons vingers geglip want – net toe ons wou ry, sien ons die regteragterwiel is pap,pap,pap!

Na die maer spaarband ingeskroef is, is ons fort. Al met die loopplank langs to by die restaurant. Betyds en dankbaar.

Die plek het maar ‘n ” motley crowd” opgelewer. Ek het die rillings gekry elke keer wat ek in die blink gevreet van die onafgeronde seerower aan die oorkantste tafel vasgekyk het. Daar was nie sprake van tafelmaniere nie. Jig!

By die tafel reg langs ons was twee hoogs verveelde mense met twee hiperaktiewe selfone. Die man het gesit-lê in sy bruinerige sweetpak en sy vrou het haar vals oogwimpers gefladder vir ‘n weldeurdagte selfie geneem deur ‘n glas vol witwyn met die fokuspunt die rooi son wat traag op die branders gaan lê en dan daaragter verdwyn.

Ek vrek voor ek dit hardop erken, maar sy het ons geïnspireer om sélf ‘n paar mooi sonsakoomblikke af te neem.

Die wynkelner het ons bestellings kom neem en ons twee het weer eens besef hoe bevoorregd ons is om selfstandige kinders te hê sodat ons in onsself kan belê.