Die Keuse


As ek die keuse het, luister ek in ‘n keurige ou strandhuis met ‘n asem-wegslaan-uitsig oor die Atlantiese oseaan na ‘n  boekekenner wat met diepe insig Edith Eger se internasionale wenner,The Choice, uitlê.
Wat ‘n voorreg om saam met Bredasdorp Leeskring by Z die bevestiging van die veerkragtigheid van die mens te kry. So bewys die post-traumatiese spesialis, Eger wat in Job 32 : 8 en ook deur die plaaslike skrywer, Audrey Blignault, gesê is. “Dis die gees in die mens wat hom insig gee.”

Veerkragtigheid, in ‘n neutedop, is om op te staan en aan te hou en aan te hou.
Hierdie skrywer was ‘n Hongaarse Jodin wat Auschwitz se konsentrasiekamp oorleef het. Sy het telkens teruggedink aan haar ma se woorde, “Just remember no one can take away from you what you have put in your own mind.”  Hierdie uitgangspunt stem ooreen met dié van haar mentor in latere jare, Victor Frankl.

Edith Eger het gekies om haar traumatiese ervaring in haar post-traumatiese stresberading te benut.

‘n Mens moet tot die punt kom om te vergewe.

Haar slotsom is: “Time does not heal, it is what you do with time.”

Edith Eger woon in Californië, sy is in haar 90’s en deel haar teorie oor KEUSE steeds met groot gehore.

Soos een leeskringlid agterna sê: “Dankie Z, vir jou bespreking! Weereens besef die mens is baie sterker as wat ons dink. Sy het soos die Feniks weer uit al die seer en vernedering herrys soveel sterker en wyser!! 🙏❤️🙏”

“Neverending Whatnot”

“Kom dat ons julle kan wys hoe. Amigurumi Donderdagoggend 09:00 by Uitsiglaan 2.Bring breinaalde (4 of 4.5) en hekelnaald. Ek het wolletjies.🧶🪄”

Hierdie uitnodiging is op die Amigurumi WhatsApp-groepie gerig.

Die eerste Donderdag was daar twee.

Sit jou gedagtes op loop. Ons werk selfs blommetjies op flop gedeeltes.

“🙌🙌Baie oulik, ken dit nie, sal ook graag wil leer!🤗”

“Morning Amigos !  Going to Hermanus on Wednesday if anybody needs anything from there!🌻🙂❤️”

Die tweede Donderdag net een.

“Dit lyk dan net of dit ekke gaan wees! Ek sal my neverending whatnot kom wys. Vir ‘n koffie bly en dan groet ek eers vir ±4 weke. Sien jou na 9.”

Die derde Donderdag kon nie een van die gebruiklike groep kom nie.

” Ek sal iewers in die jaar by julle kan aansluit! Ons is tans in isolasie. My man het verlede Donderdag positief getoets vir Covid!”

Ek kondig toe aan dat ons vir ongeveer 4 weke nie bymekaar gaan kom nie, maar toe kry ek die volgende twee boodskappe..

“O ek wou kom môre” en …

“Ek wou ook more kom vir my les😕”

En toe hervat ons weer ons weeklikse hekel- en breisessies!

Die twee ‘nuwelinge’ bring toe soos ek gevra het…”Hekelpen en 2 breipenne.Ek het dubbeldraad wolletjies🧶💃”

En almal is opgewonde oor die nuwe kreatiwiteit. Elke laswolletjie in ‘n ander kleur en met ‘n ander patroon en tegniek.

Ja,ons gaan die plaasvrouens nog die ‘magic ring’ hartjie ook leer.”

Danspassies

As die kat weg is, is die muis baas!

Reader’s Digest het ‘n versameling klassieke plate gehad…ons óók. Daar is gereeld hierna geluister maar die tye wat die tweetjies alleen by die huis was – veral snags – is die gordyne oopgetrek sodat hulle kon sien hoe hulle ballet (of selfs dirigeer!)Ek verwys nou na die tweeling. Ons is deesdae oumas.

Dit lyk my hierdie danspassies is oorgedra in die gene, want aldrie my kleinkinders dans!

Maar my lekkerste lag was die slag wat ek hierdie video kry waar elke danspassie…selfs die balletdanser se pirouette teen die einde nageaap is😄

Queue, Quo Vadis?

Die Franse burokrasie is glo iets verskrikliks, so het ek iewers gelees. Suid-Afrikaanse burgers kan deesdae saam met Marita van der Vyfer hulle oë oor hierdie fenomeen rol.

Die burokrasie vier hooggety noudat COVID- regulasies afgeforseer word.

Bo en behalwe die feit dat die besigheidsure gekrimp het, is daar minder personeel aan diens en helaas ook minder diens.

Die beheervrate bereik nie versadigingspunt nie.

Hoe laer die amp, hoe meer gebiedend die amptenaar.

Die openbare sektor se mag neem toe en daarmee saam die gepeupel se gevoel van algehele magteloosheid.

Dit tas mens se waardigheid aan om anderhalf uur buite die voordeur – en dít nogal op ‘n merker – te bly staan totdat dit jou beurt is om binne die vertrek te wag.

Malherbe

Malherbe het my nog altyd bekoor.

Die skrywer en digter,D.F.Malherbe, word in 2022 by die Bredasdorp Leeskring bespreek. Hierdie skildery is Hans die Skipper…die hoofkarakter in een van sy boeke.

Sensasie Sonder Sensor,Sonder Sensitiwiteit

Sodra iets soos ‘n lekker skinderstorie klink spits almal die ore, maar as lojaliteit in die hek duik verloor mens oombliklik belangstelling.

Dis hoe ek voel nadat ek die ikoon se boek oor sy storm-en drangjare gelees het.

Bo en behalwe die sensasie van sy eie stroom-oppigheid het hy al sy vriende se skandes uitgeblaker!

Dit sny deur die hart van enige bewonderaar.

Stoepsonnetjie op Stanford

Dit was net na elf toe ons die stoep met sy bont pilare opstap. Nét voor die afsnytyd vir ontbyt. Ná genoeg aan middag om ‘n glas vrugtesap, ‘n glas droë rooiwyn en ‘n koppie filterkoffie deur te werk.

Ons het die perfekte dag gekies om uit te ry Stanford toe. Ander mense ook. Daar waar ons op die stoep gesit het, het die alledaagse van ‘n Saterdagoggend op dié Overbergse dorpie voor ons afgespeel.

Eers was dit die paartjies met hulle eksotiese honde aan leibande wat die straat oorsteek. Toe die vrou met haar verbleikte gholfhemp waarop Pinot Noir geborduur is…sy het ‘n oranje halfkan gas gedra en later met ‘n opgeskote seun teruggekom – dié het dié keer gehelp dra aan die gevulde oranje halfkan gas.

Oorkant die straat, op die hotel se stoep, het plaaslike smouse marktafels beman en heelwat teen etenstyd verkoop. Soveel so dat hulle kon oppak en verder met hulle huismense kon gaan naweek hou.

Terwyl ons halfpad deur ons ontbyt was het ‘n paartjie op fietse verby gery. Waar is die dae?

‘n Wolfhond en ‘n verskeidenheid van drie het amper pandemonium in die hoofstraat veroorsaak, maar gelukkig was hulle weerskante van die pad en stewig aan hulle leisels vasgeklem.

Ons koue vleis, kaas en brood word ‘n maaltyd. Ons vertel die restauranteienaar dat ons hulle vanjaar op VIA gesien het. Bertus Basson en Misi Overturf het hulle ‘n hupstootjie kom gee na die afknouery van Covid. Hulle het beslis van daar af spoed opgetel. Die spyskaart is vereenvoudig, die plek is opgekikker en tannie Miemie maak alweer toe-oë die kos wat sy self op die swartbordspyskaart neerskrywe.

Dis goed om te sien Stanford is weer mierbesig!

Bleek siele

n Bleek bord kos en bleek poeding lok bleek siele.

Vaal en flou en verwese.  Dís hoe die restaurantete daardie Sondag vertoon het.  ‘n Vlies oor die oog…dof.

Rys en hoenderpastei, gebraaide aartappels, patats en sagopoeding.  ‘n Verveelde versameling vir enige palet.

Om alles te kroon het die slaaitafel geswoeg onder die eentonige verskeidenheid van noedelslaai en-of koolslaai.

Tóg was dit smaaklik.  Vir ‘n blinde wat onvertroud is met ‘n fees vir die oog was dit ‘n geurige kombinasie van geur en tekstuur.

Daar was die verrassingselement van versnipperde groente in die sponssagte hopie rys.  Die lemoengeur in die verglanste patats.  Die pofpastei met gevlokte hoender, die sout krakerige oondgebraaide aartappels en agterna die soet kontras van glibberige, roomryke sagopoeding.  ‘n Fees vir die geestesoog maar ai, saai vir dié wat wél wil eet met die oog. Kleurloos, van alle kleurvolle vindingrykheid gedreineer.

Nee wat, dié eethuis kan maar doer eenkant vergaan. Ek eet volgende keer eerder uit my eie bont borde my eie rooiwangtamaties, soet geelwortels met kaneel, gestoomde murgpampoentjies met neutmuskaat, aartappels in die skil en ‘n skaaptjoppie of twee.
Vir poeding niks minder as tuisgemaakte vla met gebottelde geelperskes nie.  Ek eet nou eenmaal met my oë.  G’n bleek siele by mý tafel nie!

Oë,Telepatie & Hart

Die beheerkamer is gerieflik in beheer, maar is dit?

Die Goue Vroue gaan die Ruimte ontgin! Maar nie net die Goue Vroue nie, enige een wat graag deel wil wees van hierdie ervaring, mag saamskryf! Laat weet net vir een van ons en ons sal jou graag verwelkom. Nuwe mense bring altyd nuwe idees, nuwe entoesiasme, nuwe gees. Ons skryf in geen spesifieke volgorde nie, maar soos wat elkeen van ons aandui dat sy graag volgende wil skryf. Vier dae word toegelaat voor ‘n volgende persoon haar storie plaas sodat almal genoeg tyd het om dit te kan lees. Dit sal goed wees as ons stories by mekaar kan aansluit. Komaan dames, kom ons kyk wat die ruimte ons bied. The sky is NOT the limit! Veral nie vir die Goue Vroue nie!Volg die storie deur op HIERDIE SKAKEL te kliek.

Nou is dit so dat Trommeltjies van die ruimte gedroom het, dat Toortsie die uitdaging uitbundig aangegryp het, dat Seegogga die ruimtepakke by die gryskop vroutjie gekoop het en dat Una die Goue Vroue in die ruimte met geraamtes geskok het. Dis Positief wat opgemerk het dat tannie Frannie soos ‘n flikkerliggie dán skyn, dán verdwyn omdat sy die verkeerde knoppies op die ruimtepak druk. Dis spanning wat pandemonium op die moederskip veroorsaak. Waar is Toortsie,Una en Woordnoot? Dié Goue Vroue wat in ‘n vlieënde piering opgeraap is, is besig om met die ruimtewesens onder die koepel te dans – so het Appeltjie vertel- en ons weet, volgens oorlewering, dat oorkoepelende gedagtes tot telepatiese verbindings bydra! Àl die vroue is in die koepel van die ruimte. Hulle kan mekaar net nog nie sien nie.

“Telepatie!

“Oë is blind, mens moet soek met die hart”, sê Aalsie. Hierdie aanhaling kom uit Antoine de Saint- Exupéry se Die Klein Prinsie wat op asteroïede B612 gebly het. Die dierbare klein prinsie sou ekstaties gewees het oor die Goue Vroue want hulle is so verbeeldingryk. Mens sou nooit sê hulle is grootmense nie!

!Die Goue Vroue het ”n natuurlike telepatiese verbintenis sonder die nodigheid om die knoppies agter hulle ore te druk.

“Bly gefokus”, sê Appeltjie.

“Ek kan aanvoel dat hulle hier naby is”, fluister Christa.

“Ja, hulle is sommer baie naby!”, roep San optimisties uit.

“”Maar waar?”, vra Ekmyselff haarself af.

“Dink net met jou hart”, kom dit van Carien.

“Ek het dit”, sê tannie Frannie. ” Hulle dans saam met die Pieringoë in die koepel reg noord!”

Die vroue raak stil, so gefokus is hulle. Hulle dink nou met hulle harte en fokus op noord!

Nie eens Google Maps sou die kolletjie onder die koepel so akkuraat vaspen soos die som van hulle telepatiese gedagtes nie. En dan sien hulle dit…die Pieringoë staar verstar na Una se na-aap- danspassies. Toortsie stuur breinseine uit en Woordnoot konsentreer op die paneelbord van die moederskip.

Carien is eerste om die bliep op die radarskerm raak te sien. Dis nou net ‘n kwessie van tyd. Die vlieënde piering is duidelik sigbaar en dit is omring met flikkerligte. Sou dit disco-ligte, morsekode of kinetika wees? As Woordnoot tog net hier was. Sy verstaan die beheerpanele die beste. En toe gebeur die ondenkbare…die beheerpaneel sny uit!

Madelé, ek hou my hart vas…wat nou?!

Jantatarat🎵

Kleintyd al moes hulle gediggies opsê, die gehoor vermaak.

Hulle is al effektief bejaard, maar wil nog steeds voorlees en praat. Nie dat hulle opsigtelik oud is nie. Dis net, albei van hulle is al oumas. Mens sou reken hulle sal wegskram van openbare optrede maar nee, dié twee volunteer om die boekvoorlesing saam te doen.

Die eerste hoofstuk strek ietwat verder as ‘n ouerige groepie vroue se aandagspan. Soveel so dat daar heelwat teks geskrap word vir die doel van die 3 minute ‘duoloog’.

Die paragrawe word al om die beurt gelees. Hulle stemme is ‘n harmonieuse afwisseling. ‘n Gedugte verbale aflosspan, hierdie twee. Dis amper soos om ‘n klavierduet te speel. Dàn loop die een voor met die wysie en dàn wissel die ander een haar seepglad af. Die afwisseling in die stemhoogtes breek die eentonigheid van die gebabbel wat in die teks uitgebeeld word.

By geleentheid word daar selfs met oorgawe gejodel!

En einde te laaste vat die bejaarde tweeling die heel laaste sinnetjie met ‘n wysvinger in die lug saam, ” Pasop vir Jantatarat”!