4.Emmerskoplysie

Liewe leser, hierdie hoofstuk vorm deel van ‘n bloguitdaging waarin die Goue Vroue van Rebusfontein uitgedaag word om ‘n vervolgverhaal te skryf waarin ons items op mekaar se emmerskoplysies uitleef. Soos gewoonlik, is een of meer van die res van ons karakters in die vervolgverhaal. Elke hoofstuk word afgesluit met ‘n emmerskoplysie en ‘n spesifieke vrou word uitgedaag om die verhaal verder te vertel …

Jy kan dus ten minste 13 hoofstukke verwag. Die res van die verhale kan hier gelees word, onthou om gereeld terug te kom om nuwes te lees. Dit is ‘n werk in wording …

https://fresh.inlinkz.com/p/901334e664234152a8107aad817a73bb.

********************************************

En dan, gesels asseblief saam. Het jy ‘n emmerskoplysie? Wanneer het jy begin? En wat is afgemerk en nog nie … Ek sien uit om te lees.

Om terug te kom by die begin…daar is niks eenvoudig aan die plein op Rebusfontein nie. Vrede en rustigheid ja, maar nie eenvoud as dit kom by emmerskoplysies nie!

Christa het ‘n potensiële voorgeskrewe werk geresenseer – soos nét hierdie doktor in Opvoedkunde kan! Dis daar waar die emmerskoplysie posgevat het, onder bespreking gekom het op ons rustige plein en ‘n magdom reaksies, wensdenkery, verbeeldingsvlugte, werklike gedeelde ervarings en natuurlik nuwe ingewikkelde emmerskoplysies ontstaan het.

So was Christa intussen saam met Woordnoot in Cappadocia in Turkye mrt ‘n uitsig op antieke grotwonings.  Woordnoot was saam met Appeltjie op ‘n baie ontstuimige Oranjerivier en nou is dit uiteindelik Aalsie se beurt om haar emmerskoplysie op te stel.

Soos Aalsie reeds in Christa se eerste hoofstuk gesê het, dié keer wat sy vir Trommeltjies in die rede geval het,
1. “Nommer een op my lysie is om Kinderklere te ontwerp”.
2. Musiek met lirieke te komponeer.
3. Solo te kan sing voor ‘n gehoor.
4. Italië te besoek.
5. ‘n Kinderboek te skryf.

Maar nou gaan ek eers Appeltjie se uitdaging aanvaar en saam met haar onder ‘n waterval staan.  Ons besluit om die Goue Vroue se Silwer Blits te kry en om vir Christa, Woordnoot, Sonnél, Positief, Una, Virgo-C en tannie Frannie ook op te laai.

Almal klim gewillig in ons nuutste vervoermiddel wat soos ‘n skitterende silwer koordlose muis deur die lug laat wiel Simonstad toe.

Aalsie is aan die stuur en verseker die passasiers dat die jaagtog die moeite werd is.

Sy bring die voertuig se spoed geleidelik af sodat die Goue Vroue eers die seiljagte in die hart van Simonstad kan sien en dan vir ‘n vlugtige blik oor die militêre hawe waar duikbote, frigatte, aanvalsvaartuie, namakuras en heelwat uniformmanne in aksie agter hoë mure en imposante sekuriteitshekke hulle dagtake verrig.

Dis verstommend watter goeie uitsig jy vanuit Runciman rylaan oppad na Admiraalswaterval oor die hawe het.

Die teerpad klim styl teen die hange van Simonstad uit.  Die groot witgeverfde Vloothuise met die swart spitsdakke raak yler hoe hoër die Silwer Blits (Muis) vorder oppad waterval toe.

En dan die uithangbordjie regs.  Onopvallend, verweer en allesbehalwe ‘n uitnodiging vir toeriste, besoekers en selfs vir plaaslike inwoners.  As jy nie wéét daarvan nie, sal dié wat weet jou nie sommer vertel nie. Dis ‘n unieke besoekpunt…en word met absolute diskresie aan ‘n paar bevoorregte natuurliefhebbers bekend gestel.  Die Goue Vroue is lief vir die natuur en Aalsie stel hulle met absolute vrymoedigheid aan dié versteekte waterval bekend!

Almal het vooraf geweet daar wag ‘n stywe stuk klim, klouter en stap vir hulle voor.  Hulle is gereed en gerat.

Daar is parkeerspasie net voor die voetpaadjie begin. Alles wat onnodig is om rond te dra bly in die voertuig.  Die klim begin.

Aalsie neem die voortou met Appeltjie kort op haar hakke. Pasop die klip, pasop klip, pasop, klip…so raak die boodskap al hoe meer kripties oorgedra.  Soveel so dat al wat Una hoor is ‘op’!

Die asem raak minder maar die opwinding neem toe – veral as Seegogga haar hande oor haar twee ore skulp en uitroep, “Ek hoor die waterval!”

Nou kan niks die Goue Vroue meer terughou nie.

Dit was nog ‘n goeie vyftien minute se klim toe sien hulle die waterval.  Dis ‘n baie glibberige en loodreg oppaadjie as Appeltjie onder die waterval wil gaan staan. Appeltjie klouter nou hande-viervoet oor die mosbegroeide nat rotslae met Aalsie en Toortsie kort op haar hakke.

En toe, EUREKA! Hulle staan rég onder die Admiraal se waterval onder luide toejuiging van die res van die Goue Vroue!

Seegogga, omdat jy heel eerste die waterval gehoor het vra ek jou om ons te vertel wat is op jou emmerlysie asseblief.

23 thoughts on “4.Emmerskoplysie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s