Weet Bix: Hooibale


“Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel .” So daag Christa ons uit vir ‘n bloguitdaging …’n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue.

Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

WEET BIX EN HOOIBALE

Japetto en Stiletto is plaasjapies. Hulle is ‘n tweeling en bly op ‘n saaiplaas.  Hulle speel heeldag tussen die hooibale. Daar bou hulle vierkantige kastele met klomp klein kamertjies en uitkyktorings.
Hulle pak vir hulle tafels en beddens, stoele en banke, kaste, ‘n hoë yskas en ‘n plat stoof uit. Hulle pak selfs breë klerekaste met diep rakke van die hooibale uit.

“Waaraan laat hierdie bale jou dink?”,wil Stiletto weet.
“Gee my ‘n leidraad”, kom dit van Japetto.
“Ons eet elke oggend sulke blokkies pap.  Hierdie bale lyk nes die reuse neefs van ons klein blokkies pap.”
“Pro Nutro?”,waag Japetto.
“Pro Nutro lyk soos hoendermeel.  Dit lyk nie soos hooibale nie”, giggel Stiletto.
“Rice Krispies?”
“Nee!” Nou lag Stiletto sommer hard. ” Rice Krispies lyk soos ryskorrels.”
“A, nóú weet ek…die bale lyk net soos Weet Bix!”
“Dis reg!” Stiletto klap hande en klop Japetto op die skouer. “Ek het geweet jy sal reg raai.”

“Kom, Bella se uier staan al rondvet uitgeswel van haar melk.  Sy wag vir ons. Kry jy die melkemmer dan bring ek die driepootstoeltjie”, sê Japetto ernstig.  As hulle nie vir Bella soggens vroeg melk nie, eet hulle droë Weet Bix en wie eet dan nou ontbytpap sonder melk?  Dan is daar boonop die arme Bella wat teen hierdie tyd ongemaklik rondtrippel in die melkstal. Sy moet elke oggend vroeg uitgemelk word sodat sy op haar gemak aan die lusern kan wei.

Stiletto kom aangewals met ‘n vet blink emmer met ‘n stewige hingsel waaraan sy nou so styf vasklou dat haar vingers se kneukels wit uitstaan.

Japetto het klaar op die driepootmelkstoeltjie gaan sit.  Hy sit langs Bella. So dat hy maklik haar spene kan vasvat en melk.  Hy kyk bly op toe Stiletto die emmer onder die uier neersit.

Bella rol haar groot bruin oë met die lang wimpers ‘n paar keer om, swaai ‘n paar lastige vlieë met haar klosstert weg en staan stewig vasgeanker in haar stal terwyl Japetto haar melk.

“Wat eet koeie?”, dis alweer Stiletto met haar alewige raaisels.
“Gras”, antwoord Japetto gedweë.
“Watter kleur is melk?”, wil Stiletto nou weet.
“Groen”, sê Japetto ingedagte.
“Whaala! Lekker uitgevang!”, kraai Stiletto van plesier.

Bella bulk hard.  Sy hou nie van sulke lawaai terwyl sy moet melk gee nie.  Sy trap-trap langs die melkemmer.

Stil, beduie Japetto met sy vinger op sy mond.  Wil jy hê Bella moet die emmer skop?

Stiletto sit haar vinger ook op haar lippe om te wys dat sy verstaan en sal stilbly.

Die melkemmer raak nou so vol dat dit albei kinders vat om dit op te tel en om die louwarm, romerige melk in die melkkan oor te gooi sodat hulle dit al die pad kombuis toe kan dra sonder om te mors.  Hulle is uitasem toe hulle die melkkan se kop vasdraai, die swaar kan met geknakte knieë optel en stadig aanstruikel kombuis toe.

Bella is nie die enigste plaasdier wat die tweeling soggens moet diens nie.  Daar is ook Henriëtte, die lê-hen.  Die kinders gaan haal elke oggend eiers uit Henriëtte se nes.  Soms net twee eiers, soms vier of selfs ses. Maar Henriëtte het mos deesdae ‘n breëbors kêrel, Vuurpyl.  Hy laat mens nie naby Henriëtte toe nie.  Soveel so dat daar nou al ‘n paar oggende verby gegaan het wat niemand eiers kon oes nie.
Vanoggend is weer so ‘n oggend.  Henriëtte en Vuurpyl wil nie meer in die rumoerige hoenderhok slaap nie.  Nee, hulle slaap nêrens anders as in die tweeling se hooibaalkasteel nie.  Sommer net daar op die dubbelbed.

Vanoggend is nie ‘n gewone oggend nie.  Die sonnetjie kom uit soos gewoonlik, ja, maar daar kom eienaardige geluidjies van die kasteel se dubbelbed af.  Dit klink nes klein voëltjies. 

Japetto en Stilletto stap op hulle tone nader.  Die piepgeluidjies word al hoe harder, Vuurpyl probeer sy bes om sy skril stem dik te maak en die sagmoedige Henriëtte gaan erger te kere as Ouma se verroeste dakwaaier.

En dan sien hulle dit…terwyl Henriëtte haar vlerke woes klap, loer twee swart kraalogies in ‘n geel donsbondeltjie onder sy ma se lyf uit!  Dis ‘n kuiken! Henriëtte het kuikens gekry, dis hoekom hulle nie eiers kon uithaal nie!

Nou piep die kuikens sonder ophou.

“Hulle lyk nes voëltjies”, sê Stiletto.
” Hoenders is mos mak gemaakte voëls”, sê Japetto doodluiters.

Hulle draai haastig weg huis toe as Vuurpyl met sy kil hoenderoë op hulle afstorm.

“En nou?”, wil Mamma verbaas weet.  “Julle lyk of julle ‘n spook gesien het.”

“‘n Hele nes vol geel spokies”, knipoog Japetto.

“Mamma moet kom kyk! Henriëtte het klein donsgeel kuikentjies”, val Stiletto met die deur in die huis.

Mamma skep ‘n bekertjie hoendermeel in haar groot voorskootsak en trippel agter die tweeling aan hooibale toe.

“Daar,” beduie Stiletto.  Sy is té bang Henriëtte klap weer haar vlerke. “Daar tussen die hooibale, Mamma, onder Henriëtte se vlerke.”

Mamma strooi die hoenderkos reg rondom die hoenderhen en haar kuikens.  Sy skud haar voorskootsak uit. “So-ja, nou hoef jy nie ver te stap om goeie kos los te skrop nie.  Ek kom môre weer ‘n draaitjie maak”, sê Mamma gerusstellend.  ” Hier kiep-kiep! Kiep-kiep-kiep!”, maar Henriëtte roer nie. “Toemaar, ons sal môre weer probeer.  Dalk wys sy dan vir ons haar kuikens.”

Teen sononder sluip die kinders weer uit hooibale toe.  Teen hierdie tyd sit Vuurpyl ook tussen die hooibale.

“Maar hy sit darem nie op die nes nie”,sê Japetto. “Daarvoor is moeder Henriëtte mos daar.”

Die kinders stap die skemerlig in.  Skuur toe. Daar hang allerhande tome en leisels en bosse saamgestringde uiestingels teenaan die skuur se binnemuur.  Die skuur ruik lekker, maar nie so lekker soos die aand toe daar rye hooibale al langs die skuur se mure gepak was nie.  Die aand toe die musiekmakers met ‘n viool, twee kitare, ‘n pianola (klein klaviertjie) en ‘n stel dromme hier gespeel het nie.  Elke nou en dan het Oupa ‘n nuwe lagie meel oor die wafferse dansvloer gestrooi en dan het die mans hardop geskree, “Balke toe!”

Tjokker het daardie aand soos die prentjie van die hond op Ouma se grammofoonplate gewys dat honde nie van hoë musieknote hou nie.  Elke keer wat die orkes wegtrek met ‘n skril koortjie het Tjokker met ‘n dun stemmetjie begin tjank.

Stiletto het gewys dat rooi koeldrank ‘met skop’ nie vir kinders bedoel is nie.  Haar kop het na die derde glas rooi koeldrank so gedraai dat sy nét daar, op een van die lae hooibale, omgedop het.  Pappa moes haar later kamer toe dra, want sy wou nie wakker word nie.

Japetto het gehoor hoe Mamma uitvra oor die rooi koeldrank, net om te hoor dat oom Sarel ‘n skeut witblits ingegooi het toe oom Servaas die vyfde keer skree, “Balke toe!” Mamma het haar oë gerol en vars rooi koeldrank – dié keer sonder skop – gaan aanmaak.

Skielik het die orkes meer outydse liedjies begin speel, het die grootmense twee-twee op die hooibale gaan sit en kon die kinders vroteier in die middel van die dansbaan speel ( dis nou almal behalwe Stiletto wat pootuit op die hooibale gelê en slaap het).

Vanoggend is die kinders vroeg uit die vere en wie stap voor die hooibale? Henriëtte, kop omhoog, met vyf geeldons kuikens in haar spore!

21 thoughts on “Weet Bix: Hooibale

  1. Lieflik! Onthou die komma voor ‘want’ in die 4de paragraaf van onder af se laaste sin waar haar pa haar kamer toe dra.

    Huistoe of huis toe: As dit verbind word met ‘n selfstandige naameoord word dit los geskryf: Huis toe Skool toe Werk toe Lief jou! Joanie

    On Sun, 24 Jan 2021, 12:42 Letty-Ann se Ervarings, wrote:

    > Letty-Ann posted: ” Christa lei ons Kinderverhale in met die volgende:”Die > wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon > en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, > sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisitei” >

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s