Dit het omtrent dieselfde tyd gebeur. Ons nuwe Golden Delicious Volkswagenkewer met sitplekke wat platslaan, ons heel eerste Voortrekkerkamp en die ryk Bolandse oujongkêrel.
Die nuwe kar het die weduwee Malherbe se begroting platgetrek en op die vooraand van die kamp was die herrie los in Akasiapark nommer 13.
Ons twee sewe jariges het aanhou neul vir nuwe slaapsakke. Mamma was later radeloos. “Maar ek sê mos… daar is nie geld nie! Hou op! Ek trou sommer die eerste ryk man wat hier aankom!” en toe is daar ‘n klop aan die deur.
“Wie kan dit wees?”
Toe Mamma die deur oopmaak, staan hy daar…die oujongkêrel. In sy vroeë veertigs, selfversekerd staan hy daar in sy koordfluweel langbroek en sy spikkelbaadjie. Sy yl hare is agteroor gekam en sy gesig is blinkglad geskeer. Oorgehaal vir die eertse kuier by die jong weduwee in die Kaap. Is dit die eerste ryk man wat Mamma gaan trou? Ai tog, wat nou?!
Die oujongkêrel was oom Kobus. ’n Suksesvolle wynboer van die Boland, maar vir ons was hy ’n vreemdeling wat te hard asem gehaal het.
Oom Kobus het vir ons vlootblou slaapsakke gekoop -net betyds vir die Voortrekkerkamp.
Hy het ons uitgeneem vir ete. Ons eerste uiteet was ’n historiese aangeleentheid. Ons is saam met hom na die Lighthouse buitelugkafee in Seepunt. ’n Groot aantrekkingskrag kort nadat die Seafarer daar naby gestrand het.Ons was naïef verras toe elkeen sy eie kos in ’n lang ovaal opskepbord kry! Mamma het ons met ‘n verleë giggellaggie reggehelp toe ons wou weet waar die borde en die opskeplepels dan is.
Oom Kobus het Mamma maande later gevra om met hom te trou. Maar dit was te gou. Mamma kon nie sy huweliksaanbod aanvaar nie…sy was nog besig om Pappa se dood te verwerk.
Dit is pragtig geskryf. Wonderlike herinneringe.
LikeLike
Dankie.Ja,wonderlike herinneringe.
LikeLike
Jy trek aan mens se hartsnare met jou skrywe, Letty-ann.
LikeLike
Dankie,Una. Ek het hulle so lief gehad. Hulle is intussen albei dood.Pa Dana aan sy hart en Mamma aan beenmurgkanker. Die tweeling is nou al 62 jaar oud “and still ticking!”😉😉
LikeLike
Vir my is die mooiste hoe jy elke nuwe pappa as jou eie aanneem en aanvaar. ❤️
LikeLike
Genade en ‘n liefdevolle all inclusive gesin🤩
LikeLiked by 1 person
Pragtige herinneringe en baie mooi geskryf.
LikeLike
Baie dankie,Perdebytjie.
LikeLike