Peter David

Hy dra haar op sy hande
Beloof haar silwer armbande
“Een vir elke jaar!”
Hy glimlag mooi vir haar

Sy helder blou oë
Besonders as hy na haar kyk
Asof die liefde dit deurspoel
‘n Ongekende, warm gevoel

Sy vol mond vorm die woorde
“I love you”
En sy antwoord sag
“I love you too”

Nou draai sy haar silwer armband
Om en om en om
Haar herinneringe kry die oorhand
“Ek droom nog steeds van hom!”

Photo by Rachel Claire on Pexels.com

1965 Die Oujongkêrel

Dit het omtrent dieselfde tyd gebeur.  Ons nuwe Golden Delicious Volkswagenkewer met sitplekke wat platslaan, ons heel eerste Voortrekkerkamp en die  ryk Bolandse oujongkêrel.  

Die nuwe kar het die weduwee Malherbe se begroting platgetrek en op die vooraand van die kamp was die herrie los in Akasiapark nommer 13.

Ons twee sewe jariges het aanhou neul vir nuwe slaapsakke.  Mamma was later radeloos. “Maar ek sê mos… daar is nie geld nie! Hou op!  Ek trou sommer die eerste ryk man wat hier aankom!” en toe  is daar ‘n klop aan die deur.

“Wie kan dit wees?”

Toe Mamma die deur oopmaak, staan hy daar…die oujongkêrel.  In sy vroeë veertigs, selfversekerd staan hy daar in sy koordfluweel langbroek en sy spikkelbaadjie.   Sy yl hare is agteroor gekam en sy gesig is blinkglad geskeer.  Oorgehaal vir die eertse kuier by die jong weduwee in die Kaap.   Is dit die eerste ryk man wat Mamma gaan trou?  Ai tog, wat nou?!

Die oujongkêrel was oom Kobus.  ’n Suksesvolle wynboer van die Boland, maar vir ons was hy ’n vreemdeling wat te hard asem gehaal het.

Oom Kobus het  vir ons  vlootblou slaapsakke gekoop  -net betyds vir die Voortrekkerkamp.

Hy het ons uitgeneem vir ete.   Ons eerste uiteet was ’n historiese aangeleentheid.  Ons is saam met hom na die Lighthouse buitelugkafee in Seepunt. ’n Groot aantrekkingskrag kort nadat die Seafarer daar naby gestrand het.Ons was naïef verras toe elkeen sy eie kos in ’n lang ovaal opskepbord kry!  Mamma het ons met ‘n verleë giggellaggie reggehelp toe ons wou weet waar die borde en die opskeplepels dan is.

Oom Kobus het Mamma maande later gevra om met hom te trou.  Maar dit was te gou.  Mamma kon nie sy huweliksaanbod aanvaar nie…sy was nog besig om Pappa se dood te verwerk.

Oom Kobus is met krom skouers en ’n beleefde handdruk terug na sy wynplaas in die Boland.

Ons het hom nie weer gesien nie.  Net gehoor hy is met ‘n jong vrou getroud en het self ‘n paar kinders gehad.

Sewe jaar later het ons die regte pa gekry…OOK ’n gevestigde oujongkêrel!  Jonger as oom Kobus, nie so ryk nie, ook lank en fors, maar met ’n bos swart hare, groot bruin oë en ’n sagtheid in sy stem… een wat normaal asem haal.  Een wat vandag nog saam met Mamma oud word en  hulle kleinkinders sien grootword.  Kleinkinders wat, as daar te min komberse is, die ou verslete nylon, vlootblou slaapsakke nader trek.

En die Golden Delicious Volkswagenkewer met sitplekke wat platslaan?  Dié lê seker iewers op ’n skrootwerf.