Die Sleutelgat

‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue.

Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.

https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

Ouma het altyd gesê ,’wie loer, kry niks’, maar die tweeling het ‘n anderster ervaring hiervan.

Die nuwe voorman op die plaas het vir ‘n rukkie op die plaas, in die buitekamer, loseer. Dit beteken hy het nie daar gekuier nie, hy het daar gebly.

Hulle het Oupa hoor sê, ” Tag, maar die klong is knap met sy hanne.”  En hy wás!  Hy kon enige trekker, sleepwa, kar, fiets en selfs die naaimasjien regmaak.

Toe hy eendag kom vra of sy verloofde die naweek in ons plaasopstal kan kom slaap het die tweeling vir Ouma hoor mompel, ” rooi hakskeentjies”.  Hierdie keer het die tweeling saamgestem, want hulle het dit die aand deur die voorkamer se sleutelgat met hulle eie oë gesien.

Jakob was ‘n voorslag voorman, maar niemand het kon raai dat hy ook ‘n voorslagvryer is nie!

Die dae van die week het vinnig verby gevlieg.  Elke dag het Jakob ‘n ander enjin gehad om te olie of om te stroop of om aan mekaar te sit.

Hy was veral slim as dit by  saailande kom.  Dié stropers en baal toeknopers het hy binne ‘n japtrap onder die knie gekry.  Hy kon nie net enige ding regmaak nie, hy kon ook enige implement hanteer.

Maar die naweek wat Kobie  kom kuier het, het hy ‘n blaps gemaak…hy het die tweeling se nuuskierigheid onderskat.

Dié naweek wat Kobie in die plaashuis kom slaap het, was Jakob meer aan die opsit in die opstal as wat hy in sy buitekamer was.

Vroegaand is die tweeling al gebad en bed toe gestuur. Maar wie gaan slaap dan nou vroeg op ‘n Vrydagaand? Terloops, hulle het ‘n spesmaas hulle weet hoekom mens van Vrydag praat.

Teen die tyd wat die grootmense se ligte af was, was Jakob nog steeds in die voorkamer met sy mooie Kobie.  Teen hierdie tyd weet almal al dat die tweeling nie net nuuskierig nie, maar ook vindingryk is.  Hulle moes gaan kyk hoekom Jakob nog in die huis was.  Hulle is voetjie vir voetjie die gang af.  Die breë houtplanke van die vloer kreun nou en dan, maar darem nie so dat die grootmense dit sal agterkom nie.  Hulle sien ‘n gleufie lig deur die voorkamer se sleutelgat skyn.  Die feit dat die voorkamer se deur toe is, is ‘n groot trekpleister.

Japetto, die nuuskierigste agie, sluip op die sleutelgatliggie af en kry amper die aapstuipe toe hy sien Jakob sit met sy voete – sy kaalvoete- op Mamma se duur meubels.

Hy wink Stiletto stadig nader en hou sy vinger voor sy mond. Kyk, beduie hy.

Stiletto se oë rek en dan sit sy haar hand oor haar oë.  Nou weet sy wat Oums bedoel met ‘rooi hakskeentjies’.  Kobie se sandale lê onder die koffietafeltjie en haar hakskeentjies is bloedrooi.

Japetto skuif Stiletto ongeduldig weg.  Dis sý beurt om deur die sleutelgat te loer en toe gebeur dit… Jakob het vir Kobie in ‘n wurggreep en soen al haar pienk lipstiek af.

Stiletto kry ‘n sylangse glims en sê ongeduldig, “skuif op, ek wil ook sien.”

Op daardie oomblik kom Pappa in sy streeppajamabroek in die gang afgestap, beduie kwaai dat die tweeling moet teruggaan bed toe en gee elkeen ‘n paar rapse op die boud.  Toe praat Pappa diep en mooi met die twee.

“En wat het julle vir julleself te sê?”

“Dat Ouma verkeerd was”, sê Japetto.

“Hoekom?”

“Want wie loer kry nie niks nie”, sê Japetto.

“Wat presies bedoel jy daarmee?”, vra Pappa nou (sigbaar bekommerd).

“Wie loer, kry ‘n pak slae”, help die vindingryke Stiletto haar broer uit die verknorsing.

” Nou toe nou!”

Pappa lag uit sy maag en die ondeunde tweeling knipoog met tuitbekkies vir mekaar.

Jakob het die volgende aand gewys wat ‘n knap voorman hy is…daar was ‘n stukkie opgerolde koerantpapier in die voorkamer se sleutelgat!

5 thoughts on “Die Sleutelgat

  1. Pingback: Na die maan – toortsie.com

Leave a comment