1963 KUNS

Die dik blou-en rooi potloodkryt – my eerste griffie en dik, geelwit lyntjielose papier – my lei.

Elke Sub A’tjie het ‘n twee-punt potlood met die intrapslag gekry.  ‘n Dik inkleurkryt met een punt blou en die ander punt rooi.  Alles is een.  Een DIK potlood.  So dik dat jou lomp kinderhandjie beswaarlik daarom kon vou.  Wat sou ons tog op daardie stadium van groot-en kleinmotoriese aanleg weet?  (As jy deesdae wonder, vra vir Joanie, sy is die spesialis!)

Ek sal nooit Mamma en Pappa se verbasing vergeet toe hulle my eerste tweekant spotprent sien nie…’n mannetjie met twee koppe.  Een bo en een onderstebo.  Een blou en boos, die ander een ‘n laggende rooiwang gesig.  Dit is met die tweekleurige, dik inkleurpotlood geteken.

Die kind wat uitgestaan het in my klas met sy kleurvolle sketse was Eckard Fryer.  ‘n Duitse seuntjie.  Hy het ‘n hele boks vol Faber inkleurpotlode gehad en kon die mooiste bloeiselbome teken.  In allerhande kleure.  Nuanses van rooi en wit en groen met ‘n dik diepbruin stam en takke in verhouding,  wat teen die duifblou hemel uitstaan.

My kuns het nooit verder gevorder as kop-en-skouer mannetjies nie.  Gewoonlik net die sykante.

Ek sal wat wou gee om te weet hoe ver Eckard dit met sy kunstalent gebring het.  Miskien moet ek hom op facebook soek.

9 thoughts on “1963 KUNS

Leave a comment