Doepa vir Trane

Die Goue Vroue is op ‘n avontuur in Afrika. Elkeen is die outeur van haar eie storie. Maar die Jumanji bord gooi ons rond. Lees al die avonture hier:  https://fresh.inlinkz.com/party/222c461d2afc4999aca03fa567cd84ea

********************************

Die bos is in ‘n warboel. Die wild is op hol en – ek is bevrees – die Goue Vroue ook.  Appeltjie het die dobbelstene gerol en ‘n fees vir die oog – Tarzan en baba gorillatjies- opgetower.

Intussen heers daar nog pandemonium in die woud. Die olifante met hulle lang bolippe het die pad gevat. Rebus toe waar die troeteldiere met paniek sien hoe die damvlakke daal, maar die res van die wild hier in die Serengeti is WILD. Die weer op Rebus het intussen opgesterk en die dam het nou weer water!

Gelukkig het Appeltjie vir Tarzan oortuig om ‘n paar toertjies op Rebus te kom doen. Tarzan laat hom nie twee maal nooi nie en span ‘n tou oor die dam, gelukkig het die troeteldiere die olifante en ander wild waterval toe gelei om plek te maak vir die dames en kyk nou net hoe geniet die spulletjie die oomblik! (Sien foto).

“Onthou, jy het nog ‘n afspraak met Krok”, herinner Una vir Aalsie.

Virgo C kondig aan: “Aalsie het ‘n afspraak met krokodil.  Sy skuld hom. Hy het immers gister toe sy hom beveel het die Goue Vroue uitgelos. Die wilddiewe was baie beter vleis vir ‘n honger krokodil. Ja, Krok het Rooibaard eerste verorber en toe die ander twee, maar dit was uit selfverdediging.”

Almal, Tarzan inkluis, skarrel terug bos toe want Aalsie gooi nou die dobbelstene. (Toortsie draai bekommerd terug. Sy het gehoor een imposante Blouwildebees het ‘n sjarmante buiging vir Blommetjie gegooi. Die tyd het aangebreek vir DIE GESPREK.) Aalsie wens San was nou hier want San dink op haar voete.

Onder die boom in Serengeti wag Leeu hulle in…nóú moet Aalsie haar prate praat. Virgo C praat gelukkig ook dieretaal en Una ken Afrika.

“Kom ons gesels nou met Leeu en kry vir Kwêvoël sover om die res van die wild na die boom te bring dan praat Leeu met almal tegelyk.”

Om vir Kwêvoël in die hande te kry was maklik. Sy het in die boom gesit en afluister en het met ‘ n geskal ingestem om al die diere na koning Leeu toe te bring.

Positief het intussen ook by die dinkskrum aangesluit. Dié bordspel was haar idee! Sy herinner almal daaraan dat die spel sy loop moet neem totdat almal deelgeneem het en aan die einde moet hulle onthou om “Jumanji!” te skree.

Aalsie het gelukkig haar draagbare mikrofoon by haar.  Sy was mos ‘n omroeper.  Sy praat hard en duidelik uit die boom met koning Leeu. (Sien foto).

Aalsie pas haar aanhef met Leeu aan. Sy sê nie meer hier moet ‘n einde aan die pandemonium gemaak word nie, maar begin met…
“Agbare Koning Leeu. Ons is deel van die Goue Vroue en ons het ‘n wonderlike avontuur hier, maar ons is op hierdie tydstip ons lewens aan die kompromie met Krokodil te danke. Ek het ‘n belofte gemaak en daarvoor het ek almal u koninkryk se donasies nodig. Net u sal hulle kan oorreed om een van hulle tande te gee sodat Krok se krokodiltrane vir ewig kan opdroog. Ek weet van ‘n paar wat hulle voortande sal gee maar dis nie nodig nie. Enige tand sal werk.”

“Dit is haalbaar”, antwoord Leeu en strek hom lui uit. “Maar hoe beplan julle om dit te doen? Die opdroog van sy trane?”

Aalsie verduidelik hard en duidelik wat die plan van aksie is. Leeu moet dit self so aan die res van die wild oordra en toesien dat dit gebeur.

“Ons gaan die tande verpoeier – eers die bobbejane kry om die tande hier onder die boom te trek en op een groot hoop te gooi. Dan die buffels kry om dit fyn te trap en dan sal Kwêvoël apteker speel. Hy sal sorg dat Krok betyds sy poeierdoepa inkry om ‘n tranedal te voorkom.”

“Koning Leeu, dis die minste wat ons vir Krok kan doen!”, por Virgo C aan.

“Dit is beslis haalbaar”, kom dit nou meer oortuigend van Koning Leeu en met dié kom die wild uit alle oorde aangedraf boom toe met Kwêvoël wat kwetterend heel voor vlieg.

Buffel is sy onbeskofte self en stamp almal uit die pad totdat hy in ‘n stofwolk heel voor tot stilstand kom. Kwêvoël trap hom sleg uit, maar hou skielik op as hy Leeu se vuil kyk sien. Hierdie is ‘n gewigtige saak en stilte daal ooreenkomstig op die trop neer.  Koning Leeu spreek sonder enige omhaal van woorde sy wens uit en al die bobbejane staan reg met knyptange (nogal!) om die diere se tanddonasies in ontvangs te neem. Buffel trap eiehandig die hoop tande fyn en Kwêvoël vlieg -hierdie keer sonder ‘n gekras want hy vlieg met ‘n bek vol tande – reguit rivier toe waar krokodil dankbaar die wenresep ontvang en vir Kwêvoël – dié keer sonder trane in sy oë – groet.

Aalsie sug verlig toe Kwêvoël die blye tyding aandra.  Nou voel sy nie meer so sleg oor die nagevolge van haar praatstok uit Tanzanië nie. Sy beskou haar afspraak met Krok as afgehandel.

Toortsie se GESPREK met Blommetjie is agter die rug en sy glimlag so breed dat sy amper vergeet dat dit nou haar speelbeurt is.

“Gooi,Toortsie!”

Eerste woordeskat

San het die Goue Vroue soos volg getoets:

“Het julle al geskryf oor die kostelikste oomblik met ‘n kleinkind? Indien nie – dit kan ook ‘n oulike boek maak. Dalk ook in alfabetiese orde??? I donno. Besluit maar…”

Toe besluit ek om my middelste kleinkind se woordeskat te deel. Dis sy wat hierbo in haar bed sit.

Die nuutste.Nina klim in die bed met ‘n boek,maak haar poppies onder ‘n kombersie toe en lees vir hulle!!

Nina se woordeskat op 19 mde

Mamma
Pappa
Maatjie
Baba
Ouma
Oupa
Tannie
Oom

Udo
Mak (Mark)
Tommy
Bacca
Hôda (Yoda)

Appie
Tat (kat)
Woef
Padda (ook vir krokodil/dinosoar)
Hoehoe (uil)
Pêd
Kaap
Koei
Has
Mys
Papiek (Pepa Pig)
Pieg (vlieg)

Nannas (borsmelk)
Kos (tos)
Matie (tamatie)
apuh (appel)
Tas (kaas)
Botie (broodjie)
Mak (melk)
Bate (water)
Komme (komkommer)
Moen (lemoen)
Tiemoen (suurlemoen)
Pap
Bottel
Bôd (bord)
Koek (koek, chocolate, sweets)
Happie

Bad
Lappie
Bôsel (tandeborsel)
Poe (shampoo)

Ty (trui)
Batie (baadjie)
Hoed
Tokkies (sokkies)
Boek (broek)
Keke (klere)
Toene (skoene)
Teemboek (swembroek)
Doeke
Tikkie (strikkie/rekkie)
Poef
Piepie

Kop
Mon (mond)
Njis (neus)
Ole (ore)
Ogies
Missie (moesie)
Nakie (naeltjie)
Hale (hare)
Buh (bril)
Hanne (hande)
Poete (voete)
Pinge (vinger)
Boude

Bed
Tas
Tas (kas)
Toeh (stoel)
Tlappe
Ka (kar)
Hys
Behs (kombers)
Kahkie (karretjie/pram)
Mat
Tan (sand)
Tee (see)
Hags (gras)
Klippe
takkie (sakkie)

Ba (bal)
Boeke
Teddie
Tiekie (tiertjie)
Mout (remote speelding)

Tap (stap)
Dudu
Hy (ry)
Is (sit)
ôtau (optel)
ytah (uithaal)
eet
mof (mors)
taan (staan)
hees (lees)
was
klim
kak (kyk)

peeh (speel)
daan (dans)
ting (sing)
bal (val)

Moeg
Honge
Toooeeet (koud)
Halm (warm)

Bo
Da (daar)
Bêg (weg)

Hallo
Bai
Amen
Eina

Kersfees in Julie op Rebusfontein

Die Goue Vroue kuier steeds tog te lekker om die langtafel op Rebusfontein terwyl die praatstok van die een Goue Vrou na die volgende aangeskuif word, elkeen haar beurt kry om te praat waaroor sy ookal wil. Maar dit beteken nie dat die Goues altyd tjoepstil sit en daar nie soms tussenwerpsels ook is nie, soos ek wat ‘n draaitjie wil loop, en dit op die ou end uitloop op ‘n reddingspoging nie! Soos ons mos darem noual amal weet, weet ‘n mens nooit wat volgende by die Goue Vroue gebeur nie.

Intussen het Seegogga vir ons elkeen ‘n geskenkie gepos: ‘n Skilderytjie van Blommie, Kameel se koei wat sy superbont geverf het en twee buffs, een in wit met geel gedruk en een in geel met wit Goue Vroue op gedruk. Te oulik.

Maar Christa is ook nie links nie, net daar besluit sy dat die langtafel nou behoorlik versier moet word soos vir ‘n Kersete. Ons hét dan nou almal ‘n geskenkie gekry en hoekom mag ons in Suid-Afrika nie ook ‘n winterskersfees hou nie? Natuurlik wil ek dadelik deelneem, want as daar net ‘n skrale moontlikheid van pret is, wil ek deel wees daarvan.

Ek en Appeltjie maak mos die servette met die goue rantjies.  Ek het ‘n lieflike stensil ontdek in die plaaslike ‘craft shoppie’.  Dis nou net mooi die regte ontwerp vir ‘n winterkersfees!

Om stensilwerk te doen is ‘n tydrowende storie. Daarby verg dit baie konsentrasie en ‘n fyn motoriese aanleg. Gelukkig is Appeltjie my servet-skep-maatjie.  Sy is baie knap met die omkapmasjien en meet elke ontwerp akkuraat uit voordat ons die 14 servette aanpak.  Ons kan nie afsteek by Christa se geel-en-wit gedekte tafel nie.  Ons goue servetpatroontjies verleen glans aan die winterkersfeesviering.

Elke Goue Vrou het ‘n takie wat met intense toewyding aangepak word.  Ek is rêrig nuuskierig om te sien hoe elkeen Seegogga se buffies drapeer.

My foto is impromptu geneem, maar ek glo julle sien ‘n sweempie gesofistikeerdheid raak!

Spookloop

Die Goue Vroue is ‘n handjievol Suid-Afrikaanse vroue – oud en jonk – wat lief is vir skryf. Ons is geanker in die werklikheid maar spoor mekaar met bloguitdagings aan om te fantaseer. “The Talking Stick” dien in hierdie geval as inspirasie tot wonderbaarlike stories…elke Goue Vrou kry haar beurt. Hierdie rondte pak ons in alfabetiese volgorde aan. Dit werk so: as jy die praatstok vashou is dit jóú beurt! Jy praat en die ander moet luister sonder om jou in die rede te val. As jy klaar is met jou storie, gee jy die praatstok vir die volgende persoon aan. Volg hierdie skakel as jy ons Goue Vroue se stories in volgorde wil lees: https://fresh.inlinkz.com/party/fe16b378ba494670a41c59177986b352 As daar nou een plek is op ons dorp wat ek geniet is dit die Bredasdorpse Skeepswrakmuseum. Daar is altyd ‘n verrassingselement, intellektuele stimulasie en ‘n lekker plattelandse samehorigheid. Maar van al die aande by die museum was Vrydagaand se Spookloop intellektueel die mees uitdagendste. Die museum se nuwe trusteeraadsvoorsitter is ‘n internasionale laerskoolonderwyser vol vars idees. Hy het die museum ‘n lewendige museum gemaak met sy nagtelike spookloop sessies. Ons was die heel eerste groep van 15 wat dié avontuur aangepak het. Ons het stiptelik nege uur (Vrydagaand) begin. Elkeen met sy flits want die museum was pik donker. Synde ‘n eerste het niemand geweet wat om te verwag nie. Gaan daar spoke rondloop? Gaan hulle spesiale lig-en klankeffekte hê? Ons weet van die vrou en haar dogtertjie en soms ook ‘n seuntjie wat daar spook. Gaan hulle daar wees? Toe die kerkklok nege uur slaan is ons ál vyftien binne die ontvangs. Ons drom saam rondom ‘n opgestopte bontebok. Die voorsitter spel die reëls duidelik uit, gee vir elkeen ‘n skryfbord met pen en instruksies en verduidelik dat ons vrae gaan kry en by elke lokaal wat ons besoek ‘n leidraad sal ontvang. Die leidraad sal ons lei na die versteekte skat. Nou moet ‘n mens die opset by die skeepswrakmuseum verstaan om vinnig by elke lokaal uit te kom. Daar is die skeepswrak deel met kanonne en boegbeelde en ‘n duiker in ‘n glaskas. Dan is daar die outydse huis waarin die kombuis, Audrey Blignault en Suster Pop (die vroedvrou), die predikante en die eerste kuratrise vereer word. Daar is ook ‘n rooi fluweel eetkamer en dan ‘n voorhuis met ‘n geelkoper uitstalling wat kom van die Queen of the Thames. Die derde lokaal is ‘Down Memory Lane’ waar outydse hekelwerk, musiekinstrumente, tikmasjiene, speelgoed, naaldwerk en trourokke agter glas uitgestal word. En as jy die antwoorde op jou bonusvrae soek moet jy in die tuin loop soek. Het ek gesê dat die spookloop inderdaad ‘n feitesending was in en om die museum? Natuurlik was ons almal oorweldig! Niemand het hulle antwoorde hardop gesê nie want daar was ‘n prys op die spel. Almal het vervaart in die donker met hulle flitsies rondgeloop op soek na antwoorde op die lys vrae op hulle skryfborde en – ek is verlig om te kan sê- ek was nie die enigste een wat vir die gidse (daar was een in elke lokaal) geskrik het nie. Ek vermoed wel dat ek die enigste een is wat drie keer in dieselfde lokaal vir dieselfde gids geskrik het! Die 1ste leidraad was iets oor kanonne. Die 2de leidraad was van drie mans wat ‘n kanon uitgeduik en aan die museum geskenk het. Die 3de leidraad was ‘ staan agter my en gee 6 treë na links’. Met al die gesoek kom ek toevallig op my eie selfoon in die gras af! Dit moes met die intensiewe soektog uit my sak geval het. Het ek genoem dat een van die deelnemers my handsak vir my gebring het? Ek het dit in die eerste lokaal vergeet. Nietemin, op die ou end het ons soos verbouereerde matrose tussen die ankers en die kanonne saamgedrom en niks wyser geword nie. Die gidse was ons genadig deur te sê die drie duikers het méér as een kanon geskenk. Ons is terug na die inligtingsbord. Nou toe nou! Die ander kanon lyk nie eens na ‘n kanon nie…dit lyk soos ‘n groot klok. Ons drom toe maar agter die ‘groot klok’ saam maar hoor nie die bel slaan nie, want ons is heen en weer maar kry nêrens die skat nie. Ons weet nie eens hoe die skat lyk nie. En die gidse? Al wat húlle skree is ‘tannie is koud’;’ oom is nou warm’. En net voordat ons van pure moedeloosheid wil hensop, kry mý skat van ‘n man die skat tussen die clivias! Die skat was ‘n vierkantige boksie van geriffelde karton met ‘n strikkie van tou. Binne- in was daar ‘n medalje, sjokoladelekkers en ‘n geskenkbewys van ‘n gesogte restourant. Verder is ‘n gegraveerde glas met pienk-en-wit malvalekkers en ‘n papierstrooitjie daarin aan die groot ontdekker oorhandig. Eureka! Elke deelnemer het ‘n sertifikaat, ‘n koppie koffie, beskuit en ‘n goeie herinnering gekry. Ek kyk met nuwe oë na ons skeepswrakmuseum en sy personeel. Bravo! Adri, dis nou JOU beurt!

Van Lugkastele na ons Goue Aarde (Kalenderstories)

Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.
Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebusbestaan. Vir ons, en dalk vir jou.

Volg hierdie skakel om by die Inlinks te kom waar al die stories in die regte volgorde verskyn: https://fresh.inlinkz.com/p/e510564f63d7492b9d9a4654518443afhttps://fresh.inlinkz.com/p/e510564f63d7492b9d9a4654518443af

Vervolg…ons begin met ‘n verwerking van die stertkant van Una se kalenderstorie:

Die klok slaan 12 uur, en Una, WoordNoot en Trommeltjie loer oor hulle skouers. WoordNoot en Aalsie se foto is geneem. Una het haar broodjie leer bak.

‘Saggies julle, moenie skrik nie. Dis net ons…’, fluister  Una.

Toortsie, Seegogga, San en Positief  kom gebukkend aangesluip en ek volg agterna.

‘Die ander ruim op.’

Vir ń oomblik voel Una skuldig, maar net vir ń oomblik. Sonell, Adri, Christa, VirgoC en tannie Frannie gaan vies wees. Darem kan ons hulle laat weet as ons in die moeilikheid raak.

‘Almal, maak toe julle oë, ons gaan maan toe skiet.’

Ons land redelik bo-oor mekaar daar aan.

My oë rek. Daar wag die ander goue vroue ons sowaar in!

‘Dink julle lot nou wraggies julle kon ons agterlos om alleen skoon te maak,’ sê Appeltjie kliphard.

‘Kyk daar. Ek gaan soontoe.’ Una’tjie is nou op haar stukke.

“Una, nou wil ekke verder vertel”, sê Aalsie ongeduldig.  “Die tyd het aangebreek dat die maan soos mis onder die son verdwyn.  Terug aarde toe!”

‘Ek bring vir jou ’n sonneblom uit Bethlehem
En gee dit water op Bloemfontein’

Hierdie refrein maal deur my kop.

My gedagtes gooi ‘n wye draai.  Terug na die sonneblomlande waar ek weer eens my gesig in die rigting van die sonneblomme draai en ek voel die sagte hitte van die son.

Terug in die werklikheid val dit my by…die uitdaging is nie bloot om ‘n kalenderfoto te plaas nie, ek is veronderstel om my Rebus-kookklasresep hier te deel.  Gelukkig ken ek my gunstelingresep uit my kop.  Dis ‘n Turkse pilaf. Dit werk so:

Braai 1 groot ui in sonneblomolie!
Voeg nou een vir een skaapribbetjie by, sout dit en braai tot bruin. Skep gaar ribbetjies uit en hou eenkant.

Braai 2 koppies rou rys en amandelvlokkies in die vet van die ribbetjies wat in die platboompot agter gebly het.

Sodra die rou rys bruinerig gebraai is, voeg die volgende 3 gedroogde kruie by: roosmaryn, marjolyn en pietersielie (en as jy kruisement het, voeg dit ook by).

Gooi 4 koppies kookwater en tamaties wat in blokkies gekap is hierby.  Los ‘n Oxo blokkie op in ‘n eetlepel kookwater en roer by vir ekstra geur.

Skep die bruin gebraaide ribbetjies bo-op die gegeurde rys en laat die rys kook tot gaar.

Nou kan Rhebus se Goues aansit vir ‘n koninklike ribbetjie-en-rysgereg en hierdie besonderse verjaarsdag saam vier.

Una se gedagtes dwaal nog steeds tussen die lugkastele en die maan rond, maar die res van die Goue Vroue trek haar subtiel in die gesprek in.  Niks kom by ‘n groep vriendinne om ‘n bord kos nie. Die boogskutters, dis nou sodra hulle ‘by’ is, is vrygewig met hulle tyd en aandag en slaag daarin om elke persoon te laat voel asof hy die middelpunt is, veral as hulle saam intellektuele argumente en filosofiese idees deel.

Word Vervolg

Die Genot van Borduur

Dit was die jaar 1984.

Met my eersteling oppad het ek heelwat tyd op hande gehad. Ver van my familie en baie alleen tye was my voorland want die Vloot was baie bedrywig en my man was die kaptein van ‘n skip.

Ons het die gewoonte gehad om naweke in boekwinkels rond te hang. Gelukkig so want dis daar waar ek die naaldwerkboek vir ‘n leeftyd raakgesien het. Ek moes dit koop! Ek hét.

Ek moes my sinvol besig hou. My ma was altyd besig met die een of ander handwerk, so toe ek die patroon vir ‘n geborduurde kussing in ‘n naaldwerkwinkeltjie sien het die dagte aan borduur by my opgekom. Maar waar begin ek? En hoe maak jy die verskillende borduursteke?

Ek is dadelik boekrak toe. Die boek het ‘n wye verskeidenheid van steke en dit was jare voor selfone en YouTube. Elke borduursteek is in vele variasies geskets en in detail beskryf. Dit was ‘n wonderlike leerskool. ‘n Kreatiewe uitdaging.

Ek is die volgende oggend terug naaldwerkwinkeltjie toe. ‘n Piepklein plekkie, stampvol van borduurpatrone en laaie vol borduurgare. So is ek vir drie maande elke dag soontoe. Dit het my presies drie maande gevat om genoeg geld bymekaar te skraap om die borduurpatroon (met gare!) te gaan koop.

Vir drie maande lank het ek met hartkloppings gaan seker maak die lap is nog daar want ek het my hart op die toneeltjie gesit. En toe kry ek dit.

Terug by die huis het ek elke moontlike borduursteek in gestudeer voor ek dit noukeurig toegepas het. Ek onthou nog goed hoe ek ‘n hele aand aan die kleinste seuntjie in sy vlootblou pakkie se omrol sokkies geborduur het. Bruin baksteenstekies.

Die proses was pynlik tydsaam maar uiters bevredigend. Hoe meer vaardig ek geraak het, hoe meer waaghalsig het ek met kleurkombinasies geword. Die eindproduk was briljant. Soveel so dat drie van my vriendinne van vyf-en-veertig jaar later almal dieselfde ontwerp wou borduur.

Ons borduurprojek was wonderlik want ‘n VLV-lid met Springbokkleure in BORDUUR het ons al die fynere borduurkunsies geleer en sedertdien pak ons die een borduurprojek na die ander aan.

Glinster en Glans

Tyd vir Rebusfontein, my fantasiedorpie. Die een waar die goue vroue bly.

***

Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.
Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.
Rebus is ons wegloop-plek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.
As jy ooit lus is om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.

***

Rebusfontein,o Rebusfontein

Plek van heerlike samesyn!

Goue Vroue vol blink gedagtes

In huisies wat skitter so uniek om die binneplein

Oë en hare met glinster en glans

En hier en daar ‘n goue gans

Sonder ons troeteldiere -sommiges onkonvensioneel-

Raak ons relatief emosioneel

Almal kan met woorde speel

Sommiges blink uit met fiksie

Ander is beter met fantasie

Maar die oorgrote meerderheid voel tuis

Met die alledaagse!