2009:Langnaweek in die Strand

Langnaweek in die Strand en Nommer 50 Lank

Dit was langnaweek en ons het vir ons plek bespreek by ‘n woonstel in die Strand.  Teen R200 per dag was dit ‘n “bargain”!  Ons het by Mamma-hulle daarvan gehoor.  Dis nie ’n luukse woonstel nie, maar het ’n toesluit garage en is baie veilig.  Parallel met Kusweg.

Die woonstel was met die eerste oogopslag ’n teleurstelling.  Daar was nie sprake van DSTV nie, net die normale drie kanale en die een wou oninteressanter wees as die ander.  Die radio in die kamer was gelukkig op standaard.  Verder was die plek relatief onpersoonlik maar alle basiese behoeftes is vervul.  Daar was selfs ’n tuimeldroër maar ek kan nie onthou dat ek ’n mikrogolfoond gesien het nie!  Die badkamer was opvallend nuut oorgedoen en in die garage was daar ’n voorraad teëls wat voorspel dat die blou linoleum vloerteëls in die kombuis vervang gaan word.  (Die blou kasdeurtjies hopelik ook.)  Die matte in die outydse room en bruin sitkamer en in die blougroen slaapkamer was splinternuut.  Die plekkie was skoon en baie netjies met subtiele instruksies dat dit weer so agter gelaat moet word.  Die grootste voordeel van die woonstel was die feit dat dit so sentraal was.  Ons het uitgepak en dorp toe gemik.

Ons het langs die see begin stap, maar die koel wind het ons terug gejaag kar toe.  Dit was vroeg skemer en met die omdraaislag het ons die res van die sonsondergang misgeloop.  Ons het gaan vrugtesap drink by die Spur.  Die eienaardigste karakters het daar gewerk.  Hiper maer mannetjies met spatsels kleur in hulle moderne kapsels.  Vir kos het ons nie kans gesien nie. 

By ’n straatkafee oppad terug het ons vars melk en beskuit gekoop. Terug by die woonstel het ons geleidelik begin afskakel. 

Vrydagoggend het die tarentale ons wakker geraas.  Die woonstelblok deel ’n grensdraad met die Voortrekker karavaanpark waar daar heelwat bome en ’n groot skropwerf is, maar die tarentale glo die gras anderkant die draad is groener.  Hulle het saamgebondel by die sekuriteitsheining om die woonstelblok.

Ons het koers gekies klerewinkels toe om vir Danie ’n sportbaadjie te soek.  Min het ons geweet wat ’n missie dit sou afgee.  Ons eerste stop was Friedman en Cohen.  Hierdie ou afdelingswinkel was nog altyd die moeite werd.  Behalwe vir kwaliteit mansklere, hou hulle ook vroueklere, linne en breekware aan.  Die lemmetjiegroen linnebaadjie het met die op beweeg van die roltrap dadelik my oog gevang.  Ek was gelukkig genoeg om ’n bypassende swart linnebroek ook te kry.  Danie het nie reggekom nie.  Hulle hou nie sportbaadjies aan nie, maar het ons na Miller’s verwys.  Ons het die winkel gefynkam vir alles wat mooi is en toe die eetplekkie opgesoek.  Daar het ons ’n spotgoedkoop ontbyt geëet en koers gekry Miller’s toe.

Miller’s is ’n gevestigde klerewinkel aan die hoofweg, skuins oorkant Friedman en Cohen.  Hulle het rye sportbaadjies gehad.  Ek het dadelik my hart verloor op die eerste winterbaadjie wat Danie aangepas het, maar dit was ‘n 48 en te knap oor die blaaie.  Die verkoopsassistente het rustig die een baadjie na die ander aangedra totdat ons die ideale grootte, nommer 50, kry.  Vyftig, lank, om presies te wees.  Dit het hulle in ’n vlootblou somerbaadjie gekry, maar Danie het een.  Ons het besluit om by die woonstel aan te trek vir die aand se toneelstuk op Kampsbaai en is Vishoek toe, waar daar ’n Mica winkel is.  Ons het nog die geskenkbewys van die Tuis lesersdag gehad en het R100 gehad om te blaas.  Maar daar was ’n afsnypunt, 30 Oktober, en ons het nie ’n Mica in die Overberg nie.  By die Mica in Sun Valley het ons twee sekuriteitsligte vir die agtertuin en ’n termometer vir die swembad gekoop.  Dit was heelwat meer as R100.

In Vishoek is ons eerste na A.P.Jones.  Baie soortgelyk aan Friedman en Cohen.  Teen hierdie tyd was ons voetwerk gedoen.  Ons kon met die intrapslag vra vir ’n nommer 50, lank.  Die verkoopsman kon nie glo dat Danie so ’n groot baadjie dra nie.  Behalwe vir sy rug, het hy ’n baie breë borskas.  Sy nommers het by 48 gestop.  Ons het nog ’n rukkie tussen die klere vertoef en toe onthou ek dat hulle, soos Friedman en Cohen, ’n lekker eetplekkie op die eerste vloer het en ’n Computicket waar ons die kaartjies vir die toneelstuk en vir die volgende dag se rugby kon afhaal.  Oor die eetplekkie was ek reg, maar Computicket het intussen geskuif na Shoprite Checkers.  Ons kon dit na die ete gaan haal.

Ons het dit gelukkig getref met ’n goed gebalanseerde bord kos, poeding en ’n glas gratis wit wyn.  Wit wyn en ek is nie maats nie, maar die ekstra glas water het die balans herstel.

Van A.P.Jones af is ons Shoprite toe waar ons die kaartjies by Computicket gaan afhaal het.  Ons was nog steeds gedetermineerd om die sportbaadjie te koop.  Ons is gevolglik na die Longbeach Mall waar ons heel eerste by die kelner van A.P.Jones verby loop wat vriendelik wou weet of ons die ete geniet het.  Hy was seker af vir die res van die dag.  My teleurstelling oor die gebrek aan rooi wyn moes sterk deur geslaan het.  As daar nou een eienskap van ’n Indiër is, is dit dat hy graag die gerusstelling wil hê dat sy kliënt gelukkig is.  Dit het ek al agter gekom toe ek destyds twee maal ’n pienk walglik dik melkskommel teruggestuur het juis omdat ek vir ’n dun een gevra het,  Ons kon hom met oortuiging die gemoedsrus gee.  Ons het beslis die ete geniet.

In die Longbeach Mall was daar geen sprake van ’n nommer 50, lank, nie.  Ons het besluit om “Up” te gaan kyk.  ’n Animasie prent wat Leon van Nierop sterk aanbeveel het.  Ons was nie teleurgesteld nie.  By die flieks het Theatre on the Bay met ’n SMS gevra of ons nie voor die vertoning in hulle restaurant wil eet nie.  Die tyd het dit toegelaat en ons is doelgerig oppad Kampsbaai toe.  Dit was lekker naby Vishoek.  Ons was net ’n hanetreetjie van die Chapman’s Peak af en het die roete berglangs Kampsbaai toe aangepak.  Maar die pad was gesluit!  Hulle was besig om aan die pad te werk.  Ons moes Kampsbaai deur die middestad benader en het koers gekies Ou Kaapseweg toe.  Sommer deur die Silwermyn Village.  Daar het ons die GPS weer geaktiveer en is ons sonder moeite Kampsbaai toe.

Dit was half ses die middag en vroeg skemer.  Kampsbaai het langnaweek gehou.   Dit het gewemel in die straatvlak restaurante en die kafeemusiek het ’n mooi geraas gemaak.  Ons was te vroeg vir aandete maar vroeg genoeg vir ’n parkeerplek reg voor die teater.  Ons is oor die pad strand toe, maar nie vir lank nie.  Die sluipslapers het groepies gevorm tussen die ronde rotse en oral was daar kartonne en selfs komberse.  Die een ou het half bewusteloos op die sypaadjie gelê en slaap.  Ons was besig om op hulle terrein in te beweeg.  Dit het Danie nie soseer gepla nie, maar ek het onveilig begin voel.  Ons is terug kar toe waar ons die nag ingewag het en nader beweeg het teater toe.

Daar was ’n handjievol mense in die ingangsportaal en nog minder in die restaurant.  Ons het besluit om te gaan eet.  Die spyskaart het vir á la carte en vir enkele disse voorsiening gemaak.  Ons het besluit op die á la carte.  Die tamatiesop en eiervruggereg was heerlik.  Dit was ons eerste duur ete die naweek.  Ons het so intens aan die gesels geraak dat ons amper die aand bederf het, maar het gelukkig betyds herstel om ’n heerlike kuieraand in ’n propvol teater te geniet.

In hierdie einste teater het ek al die Follies, Laurika Rauch, Die 60’s Show (my eertse met Danie) en nou Defending the Caveman gesien.  Die vertoning het so rof weggespring dat ek ’n dreigende rugspasma ontwikkel het.  Die ou, Allan, was uitstekend.  Hy was absoluut in voeling met sy gehoor en het gevra dat die teater se ligte aan bly.  So kon hy sy gehoor goed lees.  Met die uitsondering van die een paartjie wat voor ons gesit het (die vrou het my vreeslik aan Marinda herinner), het niemand so aanstoot geneem dat hulle geloop het nie.  Ek vermoed dit was hulle eerste aand uit en té op die man af.  Allan het agtergekom hoe ver hy die gehoor kan druk.  Daar was heelwat middeljarige pare in die gehoor, minder jonges en nog minder queers.

Hierdie stuk was ’n manne ding en as jy nie met een getroud was nie, was jy blootgestel.  Die mans veral het dit geweldig geniet.  Ek het tussen twee gesit en albei van hulle het by tye onbeheersd aan die giggel geraak.  Natuurlik was die stuk subtiel ten koste van die vrou, maar die algehele boodskap vir die manne was: “Ons is oraait!”  Ek is toe ook aan die sy van ’n baie oraait man daar weg.

Terug in die kar was dit onnodig om die GPS aan te sit want ons kon die CFM kar volg (vroulike intuïsie) al die pad tot in die Strand.  Daar het ek my liefdesverhaal byna klaar gelees en kon ons die slaap van dooies slaap na ’n lang en opwindende dag.

Saterdagoggend was ons weer douvoordag op want ons het nog nie die sportbaadjie gekry nie.  Ons het besluit dat die Duitse winkel Woerman en Brock by Somerset Mall die antwoord is.  Duitse mans is mos groot.  Maar eers sou ons ontbyt eet by die binnehuisversieringswinkeltjie op die Broadway pad.

Ons is daarvandaan Mall toe.  Gelukkig is Duitse mans nie so groot nie.  Daar was nie ‘n 50 nie.  Ook maar goed so, dit sou ons R4700 uit die sak gejaag het!  Die verkoopsdame het ons met opregte teleurstelling verwys na die manswinkel oorkant Queenspark in die Mall.  Daar was nommer 50’s om van te kies en te keur en dit boonop op uitverkoping!!  Danie is met ’n sportbaadjie en ’n nuwe wit hemp en bruin das daar weg.  Die sportbaadjie is baie imposant.  Dun vertikale sjokoladebruin – en swart strepies wat die indruk van corduroy skep maar eerder suede is.  Eintlik sou dit goed gewerk het by “Defending the Caveman.”

Ons het ons pakkies gaan bêre en is gepantser teen die weer Nuweland toe.  Maar eers is ons Stellenbosch toe om die tuinornament, wat ek vroeër die week daar gesien het,by die Franse koffiewinkel te koop.  Ons was net betyds.  Dit was al half een.  In Stellenbosch was daar ’n feestelike atmosfeer en, soos gewoonlik, bitter min parkeerplek.  Die pad na ons winkeltjie was afgesper vir ’n straatmark.  Ons het sommer voor iemand se garage gaan parkeer.  Dit was net ’n kwessie van in en uit.  Die swart gietyster met die koperkraantjie daarop was in voorraad.  Dit was net die regte grootte vir die nissie by ons voordeur.  Dis hoog tyd dat ons daardie teëls met die waaierstert duifies afkap.

Ons is tevrede deur Liesbeeck Rivier toe.  Daar het ons die ergste verkeer vrygespring en parkeerplek gekry by die Groote Schuur Skool.  Lekker naby die stadion.  Dit het onophoudelik begin reën en elke tweede smous wou ’n sambreel aan ons verkoop, maar ’n mens moet iewers die streep trek.  R40 vir ’n sambreeltjie wat die wind sal omdop is te veel gevra.  Ons het mos ons reënbaadjies aangehad.

Gelukkig was ons op so ‘n “high” na al die suksesse dat die weer en die geplas op die rugbyveld ons nie koud gesit het nie.  Ons het nie baie lank op A197 en A198 gesit nie, alhoewel dit ’n uitstekende posisie was.  Reg agter die media. (Dis seker hoekom ons nie op die TV was nie.)   Die vlae reën was onvoorspelbaar.  Ons het heelwat sitplekke op beweeg en letterlik met die rug teen die muur gaan sit.  Daar het ons die lopende kommentaar van twee bruin tienerseuns geniet.  “Hadlóóp!  Kom Boys!”  Gelukkig was hulle WP. “WP djou lekke ding!”  Hulle het met meer as 30 teenoor die Griekwas se 3 gewen.  Die veld was ’n modderplas.  Ons is effe bedremmeld na die reën kar toe en ook effe bekaf want ons het eintlik gekom om vir die Griekwas te skree.  Ons het gevolglik ’n baie lae profiel gehou.  Eintlik is ek ’n Blou Bul en Danie ’n Cheetah.

Oppad terug Strand toe het ons die Blou Bulle en Cheetahs se wedstryd gevolg en besef  ons het genoeg tyd om die studente se Cabaret vertoning in die H.B.Thom Teater op Stellenbosch te gaan kyk.  Gelukkig het ek die nommer op my selfoon gehad en het sommer oor die selfoon twee  kaartjies bespreek.  Ons het ons aan die kant gaan maak by die woonstel, ’n kosbare koppie koffie weggesluk en ek is met ’n lang swart rok en Danie in sy nuwe sportbaadjie aan my sy daar weg.

Op Stellenbosch het ons ’n bietjie druk met die parkeerplek ervaar, maar gelukkig reg voor die teater voor ’n toe hek parkering gekry.  Teen die tyd het dit hard gereën.  Binne het die kaartjies in ’n koevert gereed gelê om af te haal.  Die teater was vol met opvallend baie Engelse studente in die gehoor.  Ons kon nie glo watter lekker sitplekke ons losgeslaan het nie.  Seker omdat ons kaartjies duurder was as die studente s’n.  Dit was die laaste aand van die opvoering en die studente was puik.  Heeltemal anders as Defending the Caveman!  Ons het eintlik geskrik vir die “nudity” maar dit was op geen stadium vulgêr nie.  Inteendeel, alhoewel die kontinuïteitsaanbieder soos ’n transvestiet gelyk het, was sy vertoning wêreldklas.  En dit ’n doodgewone boerklong as jy na sy CV in die foyer kyk.  Hy het beslis die gawe om voltyds jou aandag te hou en om applous vir die res van die spelers te genereer.  Dit was baie “entertaining.”  Beter as die CD.

Na die vertoning het ek die “all time sense of humour failure” beleef toe Danie links in plaas van regs gedraai het, die kar laat stol het en almal aan die raai gehou het omdat hy nie die flikkerligte gebruik nie.  En dit met my kar!  Gelukkig het ons dit oorleef en ongedeerd na ’n intense halfuur van stilstuipe by die woonstel aangekom.  Daar het ons die laaste van die liter melk gebruik vir ’n koppie koffie en beskuit en ’n dooie hou geslaap.

Sondagoggend wou ons nog kerk toe gaan, maar ons het verslaap en het sommer oor die radio kerk geluister en eers half twaalf agter gekom die familie soek ons op die selfone.  Ons fone was nog op “silent” vir die vertoning die vorige aand. 

  Ons het ‘n lekker restaurant opgespoor…reg op die see in die Pavillion Hotel.  Alles het goed uitgewerk.

Die restaurant was ’n populêre keuse en stampvol.  Ek het weer die á  la carte roete gevolg en Danie het ‘n “Pork Schnitzel” verorber.  Na ete is ons terug woonstel toe vir ’n kort en onrustige middagslapie.   Ons het te veel geëet.  Na vele gerondrol het ons toe besluit om op te pak en huistoe te ry.

Ons was nog besig om die kar op Bredasdorp uit te pak toe Mamma en Pa daar stop.  Hulle het die honde die langnaweek versorg.  Die twee karnallies het hulle aan die gang gehou want onder andere het Tjokker, die swart Spaniel, in die motorhek vasgesit! (En dit was ook nie die eerste keer nie.)

Pa was op die punt om die brandweer te vra om te help, toe die buurman die hek lig en die hond terug klim.  Ons het Mamma-hulle opgewonde vertel van alles wat ons gedoen het en het ons inkopies ten toon gestel terwyl die manne sny vars brood van Napier se Bo-dorp Huisie sit en eet.  Die aand het ons’n interessante episode van Midsomer Murders gekyk.  Terug in die bekende ou roetine.

Oumastorie7


Dis lente! Die drie woelwaters, Ouma se oudste,middelste en kleinste, het handevol veld blommetjies gaan pluk en nou lê dit uitgepak in ‘n krom ry op die groen wolkombersie.  Dit lyk nes veldblommetjies wat op groen gras in plaas van in die weskus se wit sand groei.
Daar is reënblommetjies, poprosies, bokbaaivygies, blou koringblommetjies, trekkertjies, ‘n aalwyn, ‘n wilde blomkool en geeloogsurings.
“Het julle al geeloogsurings geproe?
Aha!Nés ek gedink het! Proe enetjie dan sê julle vir my hoe dit smaak.  Moenie die blommetjie eet nie, eet die groen stingel.
Lekker suur,né.”
Gelukkig hoef die kleingoed nie die wilde blomkool te proe nie. ‘n Mens eet nie wilde plante as jy nie eers by grootmense gehoor het of jy mag nie. Daar is plante wat giftig is vir ‘n mens!

“Kom ons gaan sit nou eers al hierdie blommetjies in water dan kyk ons hoe lyk hulle môre oggend.”

Oumastorie6

Ouma se kleingoed bondel saam onder hulle groen wolkombersie. Die reën raas op die dak en stroom teen die vensterruite af. Dit reën al sewe dae lank en buite op die stoep lê ‘n groot plas water. Ouma vertel van die reënwolke wat skud van die lag vir elke grap wat vertel word. Soms dreun die donderweer en dan lag hulle dat die trane oor hulle wolwange rol. Die reëndruppels is die wolke se trane. Groot wolke se groot trane val ver en versprei wyd in traandruppeltjies wat soos ‘n gieter se water uitval en dán op die dak,dán teen die ruite, dán op die grond val. As hulle eers op die stoep land, maak hulle eers ‘n klein plaskringetjie maar hoe meer druppels in die sirkel dans hoe groter word die waterkring. Wanneer die blou hemel gryswit oortrek is van reënwolke, val daar so baie reën op die aarde dat daar rivierstroompies vorm. Die vissies in die rivier is baie lief vir die vars reëndruppels want as daar baie reën val blaas die vissies meer vars lugborrels en kan hulle lekkerder in die rivierstroom swem. Die damme klap hande as die riviere aangeloop kom want dan het hulle ook meer water en kan die sluise by die damwater oopgetrek word en water deur die sluise vloei en verder versprei tot waar mens en dier en plaaslanderye die water kan opsuig en drink. Vanaand as julle ogies toeval kan julle lekker droom van elke druppeltjie wat op die dakke, teen die ruite, in die tuine, in die waterpoele, in die riviere en in die damme dans en lag en speel en baljaar want water gee lewe.

Oumastorie5

Die kleingoed sleep die groen wolkombersie na Ouma se kamer toe en bondel saam op Ouma se bulsak.
Ouma vra of hulle weet wat die naam van die donskombers is waarop hulle lê.
Julle weet nie? Dis ‘n bulsak.
Die kleingoed kyk Ouma met koeëlronde ogies aan. Ouma kyk die drie paar blink albasters geamuseerd aan en begin vertel.
Eendag was daar ‘n Pappagans,’n Mammagans en drie babagansies.  Hulle het lekker op Boer se plaasdam baljaar.
Het hulle met ‘n bal gespeel,Ouma?
Ouma lag! Nee, baljaar is mý kleintyd woord vir speel.
Elke plukseisoen word die gansdons gepluk, gewas en uitgedroog en in groot stapels gestoor vir die winterbeddegoed.
Bulsakke, donsveerkussings en selfs donspantoffels is met die ganse se donsveertjies opgestop. Dis heerlik sag én lig én lekker snoesig warm.
En die ganse,Ouma,moes hulle doodgaan sodat ons hulle vere kon pluk?
Nee, elke seisoen as hulle vere weer gegroei het kon hulle vere weer ge-oes word. Hoe meer ganse aangeteel het, hoe meer vere kon mens pluk.
Maar Ouma, Sondag se hoender was dan eers doodgemaak voordat sy vere gepluk is.
Dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Kom, lê lekker styf teen Ouma op hierdie lekker sagte,warm bulsak vol gansdons en trek julle groen wolkombersie vas sodat julle lekker kan broei.  Dis nie aldag wat Ouma áldrie haar donskuikens onder één kombers kan toemaak nie.

Dit Spreek BOEKDELE

Foto’s meestal verskaf deur Eddie Blight.

“Vandag gaan ek jou alles leer wat jou ma gesê het jy nie mag doen nie. Jy gaan bladsye uit boeke skeur,teken en plak en verf in ou boeke en selfs daarin skryf!” Dit is hoe Marina Blight haar ‘Altered Book’ lesing begin het.

Musiek in die ore vir die generasie wat grootgemaak is met ‘n heilige ontsag vir boeke en wat gebuk gaan onder ‘n oordrewe sosiale gewete.

Die eerste stap van dag een was inderdaad om ‘n derde van die bladsye uit ‘n ou boek te skeur.

Stap twee was om prente van ooreenstemmende kleurskemas uit glanstydskrifte te sny. My tydskrif het begin met ‘n paar wighaksandsale met reuse strikke en ‘n kombinasie van cerise pienk en skeloranje sole. Dan was daar die barok vleuel klavier en helaas, die silhoët van ‘n uitdrukkinglose meisie.

(Trek die foto groter en sien die sandale!)

“Please everybody, the Szëbö ensemble from

Budapest will shortly play.”

She abruptly started dancing, her movements as

impassive as her impression.

(Hierdie aanhaling kom uit die uitgeskeurde bladsy 50 van Otto de Kat se boek.)

Die ander skeppings het elkeen by die ander se persoonlikhede gepas…

Etensbreek in die binnehof was ook ‘n fees vir die oog. Die binnehof was tog te gesellig.

Die derde stap was embossering met ‘n pasta en stensel en stap vier was vir my ‘n openbaring…die lewensgetroue penskets van ‘n meisie bo-oor die gedrukte bladsye van my ou boek!

“Well I never!”

Môre leer ons om, nes die Franse Hugenoot-vlugtelinge*, iets in ‘n nis binne-in die boek te versteek.

*Die Franse Hugenote het ‘n Bybel in ‘n uitgeholde brood uit Frankryk gesmokkel.

Oumastorie4

Oumastorie4
Toe Ouma met die groen wolkombersie in haar arms aangestap kom weet hulle…hier kom nóg ‘n storie!
Die stortkop drup-drup. Aldrie kliengoed is vroegaand deur die stort want hier is net storte in die Struisbaai huis.  Ouma besluit om vanaand te gesels oor die stortkop.
Kan julle die water hoor drup? Dis die stortkop wat huil. Hy huil omdat iemand vergeet het om die stortkraan mooi toe te draai.  Sy ogies is al groen gehuil van al die kere wat mense vergeet het.  Die druppeltjies het van al die gedrup groen kolle op die stortkop agter gelaat.
Julle weet mos die groen aanpaksel sien mens op koper waterpype ook.
Dis waterspatsels wat so maak.
‘n Stortkop wat aanpak is soos ‘n nat neus. Dit raak skurf en later raak jou neusgaatjies toe.  So maak die groen aanpaksel die stortgaatjies ook toe en dan kan mens nie meer lekker stort nie.  As die gaatjies verstop, sit die water in die stortkop vas en hoe moet mens dan was?
Aha,Ouma sien julle verstaan…volgende keer, draai styf toe daai kraan.

2020: Rebooted

Reboot maak die rekenaar se kop skoon (en gradeer verouderde programme op. Dis selfs nodig by die installering van nuwe sagteware). Dis presies wat 2020 vir elke mens regoor die aardbol gedoen het. Ons is geforseer om ons dagboeke en kalenders en reminders te ignoreer want daar was nie ‘n manier dat ons kantoor – en sosiale afsprake kon realiseer nie.

Ons het opnuut die geleentheid gekry om die huislikheid van ons eie ruimtes te geniet, om ons huismense te waardeer, om meer aandag aan dit wat ons eet te gee.

Ons kinders – naby en ver – het in besorgdheid ons gebel en video’s van die kleinkinders aangestuur. Hulle het benadruk dat ons onsself mooi moet oppas! (In die verlede moes ons hulle bel).

Ons het ons besig gehou met ons eie dinge. Ek het kleurvolle babakombersies gebrei en met koeriers op Grabouw en in die Kaap laat aflewer.

Ek het selfs amigurumi Mickey Mouse poppies na George gekoerier met die oog op ‘n geleentheid Oostenryk toe maar dit het weggeraak!

Ons kon kwaliteit aandag aan my bejaarde pa gee. Dié van julle wat Tuesdays with Morrie gesien het,sal hiermee kan identifiseer.

Ons het nuwe tegnologie baasgeraak. Nuwe waagmoed aan die dag gelê om aanlyn- en virtuele vergaderings te hou. Nuwe rekenaar – en selfoonfunksies ontdek en die sukses van kreatiwiteit ervaar.

Ons het geleer lapmaskers maak en bedagsaamheid eerder as wetsgehoorsaamheid gerespekteer deur dit bloot te dra.

Ons het mekaar met inligting op hoogte gehou, fopnuus uitgewys en mekaar se lewens verryk met gedeelde sielsverrykende ervarings (of dit nou kerkdienste of studentekore of Italiaanse kantors op klein balkonnetjies was).

Ons het ons huise in orde gekry en toe begin uitreik na die res van ons gemeenskap…eetgoed en blomme vir mense in ouetehuise, sopkombuise, vermaaklike en opbouende videomateriaal van vergaderings soos dié van die radioklas, skeepswrakmuseum, VLV en Blomskool.

Selfs die borduurklas het mekaar met foto’s geïnspireer.

Maar vir mý was die realisering van my eie bloggemeesaamheid tot dusver die hoogtepunt van 2020.

Oumastorie3

Ouma vertel vandag vir die drie kleingoed onder die groen wolkombersie die storie van die dakwaaier.

Die dakwaaier zieng zieng in die kamer. Die toutjies wip eintlik heen en weer soos die vyf lemme draai. Dis somer in Struisbaai en Ouma vee haar gesig elke nou en dan met ‘n nat waslap af. Dis WARM.

Ouma vertel van die streepskaduwees wat die lemme teen die wil dak gooi. Sy trek een kettintkie om te wys hoe stadig die skaduwees draf. En dan, as sy weer aan dieselfde kettinkie en daar begin die skaduwees mekaar jaag. Hulle hardloop nou dat die lemme sing. Hoe vinniger die lemme daai,hoe vinniger beweeg die skaduwees en…hoe koeler word dit in die vertrek!

Ouma bêre later haar waslap en die drie woelwaters sleep weer die groenkombers wat hulle vroeër afgeskop het nader. Dit wil-wil nou KOUD raak.

2018: Hongaarse Afskeid

Die trein wag ongeduldig op Wene se stasie. Dit is oppad na Hongarye. Daar is ‘n gryskop tannietjie wat moeilik totsiens sê. Sy staan nog op die platform. Haar seun staan eenkant maar twee langbeenseuntjies en drie klein dogtertjies rem aan haar drasak. Ek kan sien haar seun beduie dat sy sal moet inklim anders ry die trein sonder haar. Ek lei af haar bagasie is klaar in haar kompartement want sy het net die groot handsak by haar. Sy praat om die beurt met haar kleinkinders en draai na die treinwa se trappies toe. Daar bly sy ‘n rukkie talm want die kinders raak nou onkeerbaar. Die middelste enetjie het begin huil en nou huil almal op ‘n streep. Die Hongaarse oumatjie beweeg in die trein se gang af en trek die skuifraamvenster moeilik oop. Sy druk haar hoed teen haar bolla vas, hang uit die venster en waai met ‘n groot wit sakdoek terwyl die trein wegtrek. Later is net die wit spikkel sigbaar. Die pa maak sy kinders ferm bymekaar en stap moeisaam weg. Ek kan my net voorstel hoe sit die geboë Hongaarse oumatjie in haar treinwa en snik.

Oumastorie2

Ouma vertel verder…maar eers skuifel die drie kleingoed onder die wolkombersie in.
Vanaand vertel ek julle die storie van die sekelmaan.
Dit was oestyd in die Kaap. Die reën het verdwyn en die graan het kiertsregop, een langs die ander, in reguit rye op Boer se land gestaan.
Daar was nie elektrisiteit nie en die handlangers moes die graan met lang krom sekels afkap.
Dit was baie harde werk en die werkers het ge-oes vroegoggend,as die son sy kop lig, tot saans laat, as die son se kop agter die berg verdwyn.
En toe,een aand, gaan drink die een werker ‘n botteltjie water en toe hy terugkom by sy werksplek is sy sekel skoonveld!
Hy soek orals maar kry nêrens sy sekel nie. Almal help later soek en toe, skielik, roep een van die werkers hard uit,”Daar is dit! Dit hang nou daar bo in die donker hemel…dit lyk nes die maan!”

Die werkers het hulle sekels – almal behalwe die een in die maan- opgetel en gaan slaap.

Julle moet die maan elke aand mooi dophou. Eendag is eendag dan sien julle ook die sekelmaan.