L-a-n-g-t-a-f-e-l

Novembermaand moet die uitnodigings uit!  Daar is 60 kaartjies wat verkoop moet word.  Wat sal ons tema vir die l-a-n-g-t-a-f-e-l-e-t-e wees?

Ons besluit op “Sing,Swing and All that Jazz!”  Die datum? So na as moontlik aan 14 Februarie.

Die radio omroepertjie wat die platevasvra gaan lei stel voor dat haar sangervriend ons heelaand vermaak op ‘golden oldies’.

Die sanger is bespreek vir Valentynsaand in die ou tronk se binnehof.  Die spyskaart is klaar haarfyn beplan, kelners opgelyn en die kerkkantoor se lang houttafels is uitgeboek vir ons langtafelete.  Daar sal ekstra stoele aangekoop moet word en daar word ernstig kop gekrap oor die dècor.
Servette gaan ons sélf maak.  Maklik.  Ons kerf die silhoëtte van die trompetspelers op roomysbakdeksels uit en verf dit op lap.

Ou langspeelplate kry etikette waarop die spyskaart kripties uitgebeeld word…elke snit op die plakker beskryf ‘n dis.

Lanterns word bymekaar gemaak om op te maak vir die gebrek aan elektriese ligte.

Gelukkig is daar ‘n muurprop binne die gebou vir die klanktoerusting.

Nou moet die weer net saamspeel.

Dié dag waai die wind so kwaai dat ons met moeite die servette op die tafels hou.  Gelukkig bly die langspeelplate lê…die ‘onderborde’ wat ook ons spyskaarte is.

Teen sesuur kry die wind én die okkasie sy lê. Die gaste is netjies uitgevat.  Dis strikdasse en vereboas en rooi lippe.  Die tafels is gemerk: Riviersonderend, Bredasdorp, Napier.  Daar is niks soos ‘n glasie Old Brown Sherrie om die grysstof so ‘n bietjie te olie nie.  Die een tafel (letterlik vol mense van daardie spesifieke dorp) wil skerper wees as die volgende.  Die ‘golden oldie’ vasvra sprei ‘n AHA!-gevoel wat momentum kry as dit donker word en die karoseenlampe ‘n geel gloed oor die kosbelaaide tafels begin gooi.


Die minnesanger begin met sy Italiaanse gunstelinge en gaste kry tussendeur koers dansbaan toe.  Oom Toy ( heel voor op foto) was op sy dag kampioendanser en wys sy slag!

Die fotograaf staan bont vir individuele paartjies en groepfoto’s.  Hierdie is die begin van ‘n nuwe tradisie…die Vriende van die Skeepswrakmuseum se Langtafeletes.

29 thoughts on “L-a-n-g-t-a-f-e-l

  1. Oulik! En ons plekke is alreeds bespreek vir 2022!
    On Sun, Nov 7, 2021 at 11:10 PM Letty-Ann se Ervarings wrote:
    > Letty-Ann posted: ” Novembermaand moet die uitnodigings uit! Daar is 60 > kaartjies wat verkoop moet word. Wat sal ons tema vir die > l-a-n-g-t-a-f-e-l-e-t-e wees? Ons besluit op “Sing,Swing and All that > Jazz!” Die datum? 14 Februarie. Die radio omroepertj” >

    Liked by 2 people

  2. Op my bucket list…’n langtafel ete met al my hartsmense. Dink dit sal iewers in ‘n dorpie se hoofstraat wees. Vir die aantal mense….

    Like

Leave a comment