Spookloop

Die Goue Vroue is ‘n handjievol Suid-Afrikaanse vroue – oud en jonk – wat lief is vir skryf. Ons is geanker in die werklikheid maar spoor mekaar met bloguitdagings aan om te fantaseer. “The Talking Stick” dien in hierdie geval as inspirasie tot wonderbaarlike stories…elke Goue Vrou kry haar beurt. Hierdie rondte pak ons in alfabetiese volgorde aan. Dit werk so: as jy die praatstok vashou is dit jóú beurt! Jy praat en die ander moet luister sonder om jou in die rede te val. As jy klaar is met jou storie, gee jy die praatstok vir die volgende persoon aan. Volg hierdie skakel as jy ons Goue Vroue se stories in volgorde wil lees: https://fresh.inlinkz.com/party/fe16b378ba494670a41c59177986b352 As daar nou een plek is op ons dorp wat ek geniet is dit die Bredasdorpse Skeepswrakmuseum. Daar is altyd ‘n verrassingselement, intellektuele stimulasie en ‘n lekker plattelandse samehorigheid. Maar van al die aande by die museum was Vrydagaand se Spookloop intellektueel die mees uitdagendste. Die museum se nuwe trusteeraadsvoorsitter is ‘n internasionale laerskoolonderwyser vol vars idees. Hy het die museum ‘n lewendige museum gemaak met sy nagtelike spookloop sessies. Ons was die heel eerste groep van 15 wat dié avontuur aangepak het. Ons het stiptelik nege uur (Vrydagaand) begin. Elkeen met sy flits want die museum was pik donker. Synde ‘n eerste het niemand geweet wat om te verwag nie. Gaan daar spoke rondloop? Gaan hulle spesiale lig-en klankeffekte hê? Ons weet van die vrou en haar dogtertjie en soms ook ‘n seuntjie wat daar spook. Gaan hulle daar wees? Toe die kerkklok nege uur slaan is ons ál vyftien binne die ontvangs. Ons drom saam rondom ‘n opgestopte bontebok. Die voorsitter spel die reëls duidelik uit, gee vir elkeen ‘n skryfbord met pen en instruksies en verduidelik dat ons vrae gaan kry en by elke lokaal wat ons besoek ‘n leidraad sal ontvang. Die leidraad sal ons lei na die versteekte skat. Nou moet ‘n mens die opset by die skeepswrakmuseum verstaan om vinnig by elke lokaal uit te kom. Daar is die skeepswrak deel met kanonne en boegbeelde en ‘n duiker in ‘n glaskas. Dan is daar die outydse huis waarin die kombuis, Audrey Blignault en Suster Pop (die vroedvrou), die predikante en die eerste kuratrise vereer word. Daar is ook ‘n rooi fluweel eetkamer en dan ‘n voorhuis met ‘n geelkoper uitstalling wat kom van die Queen of the Thames. Die derde lokaal is ‘Down Memory Lane’ waar outydse hekelwerk, musiekinstrumente, tikmasjiene, speelgoed, naaldwerk en trourokke agter glas uitgestal word. En as jy die antwoorde op jou bonusvrae soek moet jy in die tuin loop soek. Het ek gesê dat die spookloop inderdaad ‘n feitesending was in en om die museum? Natuurlik was ons almal oorweldig! Niemand het hulle antwoorde hardop gesê nie want daar was ‘n prys op die spel. Almal het vervaart in die donker met hulle flitsies rondgeloop op soek na antwoorde op die lys vrae op hulle skryfborde en – ek is verlig om te kan sê- ek was nie die enigste een wat vir die gidse (daar was een in elke lokaal) geskrik het nie. Ek vermoed wel dat ek die enigste een is wat drie keer in dieselfde lokaal vir dieselfde gids geskrik het! Die 1ste leidraad was iets oor kanonne. Die 2de leidraad was van drie mans wat ‘n kanon uitgeduik en aan die museum geskenk het. Die 3de leidraad was ‘ staan agter my en gee 6 treë na links’. Met al die gesoek kom ek toevallig op my eie selfoon in die gras af! Dit moes met die intensiewe soektog uit my sak geval het. Het ek genoem dat een van die deelnemers my handsak vir my gebring het? Ek het dit in die eerste lokaal vergeet. Nietemin, op die ou end het ons soos verbouereerde matrose tussen die ankers en die kanonne saamgedrom en niks wyser geword nie. Die gidse was ons genadig deur te sê die drie duikers het méér as een kanon geskenk. Ons is terug na die inligtingsbord. Nou toe nou! Die ander kanon lyk nie eens na ‘n kanon nie…dit lyk soos ‘n groot klok. Ons drom toe maar agter die ‘groot klok’ saam maar hoor nie die bel slaan nie, want ons is heen en weer maar kry nêrens die skat nie. Ons weet nie eens hoe die skat lyk nie. En die gidse? Al wat húlle skree is ‘tannie is koud’;’ oom is nou warm’. En net voordat ons van pure moedeloosheid wil hensop, kry mý skat van ‘n man die skat tussen die clivias! Die skat was ‘n vierkantige boksie van geriffelde karton met ‘n strikkie van tou. Binne- in was daar ‘n medalje, sjokoladelekkers en ‘n geskenkbewys van ‘n gesogte restourant. Verder is ‘n gegraveerde glas met pienk-en-wit malvalekkers en ‘n papierstrooitjie daarin aan die groot ontdekker oorhandig. Eureka! Elke deelnemer het ‘n sertifikaat, ‘n koppie koffie, beskuit en ‘n goeie herinnering gekry. Ek kyk met nuwe oë na ons skeepswrakmuseum en sy personeel. Bravo! Adri, dis nou JOU beurt!

18 thoughts on “Spookloop

  1. Dit klink wonderlik dat ‘n plek wat meesal deesdae vermy word, so ongelooflike plan uitgedink het. Ek sal graag aan daai ene wil deelneem.

    Like

  2. Pingback: Spookloop | Letty-Ann se Ervarings

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s