Drie Tandartse

Sedert grendeltyd, 27 Maart 2020, het ek die dokter, apteek en verál die tandarts soos die pes vermy, maar toe val TWEE van my stopsels uit.

Tandarts toe. Hoe anders?

Dis was vreemd om die enigste pasiënt in die wagkamer te wees. Geen sprake van tydskrifte nie. Handsproei met instruksies dat jy eers jou hande moet saniteer en jou mondmasker moet dra voordat jy die toonbank mag nader.  Slegs een pasiënt per uur word toegelaat.  Afstand.

Die tandarts vra my uit oor Covid-19.Oor hoe dit my mense geaffekteer het. Ek vra toe niksvermoedend oor sý mense uit.

“Dit was die slegste Desember van my lewe…” begin hy vertel. Sy pa, ook ‘n tandarts, het afgevlieg vir die vakansie. Sy neus begin loop en toe kry hy keelseer.  Dit was die begin. Drie weke later is hy ingejaag stad toe want die platteland het nie suurstof gehad nie.

“Ek het vandag my laaste pil gedrink”,sê die tandarts. “Ek het ook keelseer gekry.  Ek was báie siek. Soveel so dat nie één van my vriende kon kom kuier nie.  Covid. Ek was te swak om my pa die trappe af te help.  My seuns moes hom help.”  Sy pa is vroeg Januarie 2021 in die hospitaal opgeneem.  Twee dae later is sy 84-jarige pa dood. Covid.

So laat ek hom sy storie vertel en staan traag op om in die stoel te gaan sit.  ‘n Jong tandarts neem my onder hande en ek wonder…moet ek met hom simpatiseer oor sy oupa se dood?

Ek besluit daarteen. Dalk huil hý na binne.

14 thoughts on “Drie Tandartse

  1. Pingback: Verwelkom nuwe inwoner op Rebusfontein – Dr. Christa van Staden

  2. Pingback: Verwelkom nuwe inwoner op Rebusfontein – Dr. Christa van Staden

  3. Pingback: Rebus, hier kom ek! – toortsie.com

Leave a comment