Kyk,as daar nou één ding is wat die Goue Vroue hoendervleis gee, is dit ‘n makietie! Nie ‘n pinkie lig, ragfyn handgeskilderde porselein teesessie nie, maar ‘n behóórlike partytjie met kos en wyn en opskop danse en (verkieslik ook) sang.
Die verhale van die Goue Vroue se waaghalsigheid kan hier gelees word https://fresh.inlinkz.com/p/f80d05d5846445598fea67b47c8a6182.
Dit was ‘n soel somer Vrydagaand toe die Goue Vroue die verslete binnehof van die ou tronk binnestap.
Stringe bont vlaggies het net-net gewikkel van die skraal windjie wat genadiglik dié Februarie aand kom afkoel het.
Die Italiaanse ‘crooner’ het met ‘n paar rustige nommertjies weggeval. Sy sanguiniese temperament het atmosfeer geskep. Sy lenige profiel netjies teen die kalksteen afgeëts. Sy skouers en sy smal heupe het geruisloos beweeg. Hy het Italiaanse liefdeswoortjies in die gewillige mikrofoon gefluister en selfs die wind het swymelend saam met die Goue Vroue geluister.
Viva Italia! Klop elke hart ontstuimig. Hierdie is ‘n riskante aand…ons voel tuis in die nostalgiese ruimte. Ou TRONK ofte not.
Woordnoot is eerste om skuins agter die kantor te staan. Sy neurie, beweeg haar skouers in daai valletjiesrok en lok die res met sensuele vingers vorentoe. Nog voordat die koorgedeelte aanbreek staan al die ‘chorus girls’ in goue harmonie daar voor. Die Goue Vroue steel die kollig. Die ‘crooner’ bly ten spyte daarvan darem nog die middelpunt.
‘n Vurige Italianer uit die gehoor staan op, pyl reguit op Appeltjie af, maak ‘n grasieuse buiging láág- reg voor Appeltjie – en sleep ‘n baie onwillige dansmaat dansvloer toe. Maar dié onwilligheid is gou vergete toe Appeltjie soos ‘n gimnas deur die Romein dán na links, dán na regs en later heeltemal agteróór geknak word!
Natuurlik staan die Goue Vroue nog bankvas agter die ‘crooner’ (teen hierdie tyd redelik meegevoer) en sing hulle ietwat luidrugtig die koortjies uit. Appeltjie is so meegevoer in die Tango, sy kry skaars kans om haar vir hulle te skaam.
Uiteindelik los die danser vir Appeltjie – darem nie net daar op die baan nie- en lei haar terug koor toe.
Nou giggel die groep ‘giggling Girty’s’ só dat die minnesanger sy humeur verloor en hulle summier terug stuur tafel toe.
Die danser kry tweede asem en maak sy buiging…dié keer voor Sonéll. Sonéll wil nog beduie dat sy nie met vreemde Italiaanse mans dans nie, maar die man gooi self ‘n paar handgebare en lei haar baan toe. Ooglopend praat hulle nie dieselfde taal nie.
Maar musiek is ‘mos n universele taal en daar dans die twee ‘n foutlose rondte terwyl die res van fie Goue Vroue hulle met leep oë gade slaan.
Teen dié tyd het die res van die Italianers in die ou tronk se binnehof tot die besef gekom dat Suid-Afrikaanse (Goue) Vroue beslis nie twee linkervoete het nie. Met die volgende minnesang staan hulle soos een man op, maak galante buigings voor die Goue Vroue en voer hulle weg op ‘n melodieuse reis na Italië. Wát ‘n ondervinding!
Na ‘n noue ontkoming mik Una en Woordnoot terug mikrofoon toe met die oog op ‘n meesleurende agtergrondduet, maar die ‘crooner’ wys hulle ferm van die hand.
Nou is die vet in die vuur. Die Goue Vroue staan in ‘n ry teen die kalkmuur, wag vir die kollig en herinner baie aan die uitkenningsparades van weleer.
Seegogga is getatueer, Virgo-C se kop is glad geskeer, Aalsie se beenhare staan soos die stoppels op ‘n tronkvoël se ken, Trommeltjies se twee voortande is uit na die Baviaanse struikeling, Christa het ‘n Wit Kopdoek en dié ‘gang’ se tjaps op haar linker voorarm, Tannie Frannie lyk soos ‘n Ninja Seeskilpad met haar geknoopte lappe en Positief se potlood sit nog steeds agter die oor!
Dis Toortsie wat egter die kil stilte verbreek met “Een vir almal en almal vir een!”
En daar trek die ‘chorus girls’ weg met Mama Mia! Mama Mia! en die ou tronk sal NÓÓÍT weer dieselfde wees nie!
Ek het heerlik gelag nou, oh my word, dit is great geskryf. Hmmm, kaal geskeerde kop….Mamma Mia…
LikeLike
Ek het nou heerlik gelag soos hierdie woordprentjie wat jy skilder in my kop vorm aanneem. Regtig, my voortande🙄🙄🥺🙈. Ek weet ek bly innie Kaap in, maar ń passion gap😭🙊
LikeLiked by 1 person
Ek het heerlik gelees, spot jy lekker met kopdoek en my. Ek hou van die prentjie wat geskets is. Dankie dat ek saam kon dans, ek wil nog eendag kan tango
LikeLiked by 2 people
Ja,ek spot met jou want ek weet jy kan dit vat🤣
LikeLiked by 1 person
Ek het min tyd vir twee mense met kopdoeke, ‘n minister en Piet kopdoek. Ek wonder hoe sal ek met een lyk? Beslis nie so oulik soos Toortsie nie, ek het met my Moslem gewaad die idee gekry.
LikeLiked by 1 person
Man, maarnou het jy my meegevoer! Dat Appeltjie darem ‘n tango kan dans, is nie altemit nie, hoor! In daardie lieflike rooi rok!
LikeLiked by 2 people
En hiermee het sy al die waardigheid herwin wat sy op fie ysskaatsbaan verloor het.
LikeLiked by 2 people
Ag maar jy is dierbaar. olè!
LikeLiked by 2 people
Jy is so oulik! ❤️👏🏻👏🏻👏🏻
LikeLiked by 1 person
Julle voorbeeld van deernis en geborgenheid is goud werd!
LikeLiked by 2 people