Die trein wag ongeduldig op Wene se stasie. Dit is oppad na Hongarye. Daar is ‘n gryskop tannietjie wat moeilik totsiens sê. Sy staan nog op die platform. Haar seun staan eenkant maar twee langbeenseuntjies en drie klein dogtertjies rem aan haar drasak. Ek kan sien haar seun beduie dat sy sal moet inklim anders ry die trein sonder haar. Ek lei af haar bagasie is klaar in haar kompartement want sy het net die groot handsak by haar. Sy praat om die beurt met haar kleinkinders en draai na die treinwa se trappies toe. Daar bly sy ‘n rukkie talm want die kinders raak nou onkeerbaar. Die middelste enetjie het begin huil en nou huil almal op ‘n streep. Die Hongaarse oumatjie beweeg in die trein se gang af en trek die skuifraamvenster moeilik oop. Sy druk haar hoed teen haar bolla vas, hang uit die venster en waai met ‘n groot wit sakdoek terwyl die trein wegtrek. Later is net die wit spikkel sigbaar. Die pa maak sy kinders ferm bymekaar en stap moeisaam weg. Ek kan my net voorstel hoe sit die geboë Hongaarse oumatjie in haar treinwa en snik.