2008: Twee Leeus op die Voortrappies

Deesdae lê daar twee leeus op die voortrappies.  Tjokker en Kiki (Kikels).  Hulle is die twee Cocker Spaniels wat deesdae Kerneels (‘n swart Chow) se plek volstaan.

Hulle kan nie so vryelik soos Kerneels die strate paradeer nie, want daar is nou ‘n tuinmuur en elektroniese hek opgesit.  Nie dat dit hulle effektief binne hou nie.  Hulle klouter soms deur die hek, maar meestal deur die bure se ogiesdraad heining as die “wanderlust” hulle beetpak.

Hulle het die luuksheid van ‘n reuse hondehok, iets wat Kerneels nie gehad het nie…en slaap soms daarin as dit koud is.  Verder eet hulle hulle kos in die hondehok, sodat die voëls hulle nie pla nie.

En vrek hulle oor kos?!  Sodra die voor-of agterdeur oopgaan vlieg hulle soos een span reguit hondehok toe.  Duidelik onder die indruk dat hulle gaan kos kry.  Kos is in hierdie geval net hondepille, anders raak dit ‘n missie om die werf skoon te hou.

Hulle is blitsvinnig om die huis in te glip, maar word tot dusver suksesvol buite gehou.  Dis net so nou en dan, soos wanneer ons by ‘n oop buitedeur TV kyk, wat ons die vergunning maak om hulle nie raak te sien daar waar hulle ‘n lae profiel hou net binne die deur nie.

Die bruinetjie is die snuffelaar.  Sy sal die weg na buite of na binne baan en die swartetjie sal belangstellend volg.  Die swartetjie is meer passief, maar tog fyner ingestel op geluide en die blaffer van die twee.

Hulle slaap ook, soos ou Kerneels destyds, op die trappies voor ons kamerdeur.  Daar luister ons gereeld na hulle singerige asemteue met ‘n snorkie of ‘n geblaf , gekrap of gestoei  tussen in.

Hulle is elke dag ewe opgewonde om ons te sien en bars uit hulle skuilplekke.  Jaag die buurt se katte en voëls en blaf by elke voorhekkie wat sê:  ”Pasop vir die Hond”.

Hulle is op hulle manier gehoorsaam en het selfs al saam gaan vakansie hou.  Ons het foto’s van die twee honde in hulle hondehok agterop die bakkie oppad Struisbaai toe.  Hulle is mal oor die see en swem dat hulle lang ore so dryf.

Oorle Kerneels sou seker geamuseerd gewees het met sy twee opvolgers.

2015 Opvolg…

Intussen het Tjokker onder die bakkie beland en is hy nie meer met ons nie.  Kiki het ‘n persoonlikheidsverandering na sy heengaan ondergaan.  Sy het baie meer sag en liefdevol geraak…totdat Tommy op die toneel gekom het.

Tommy was ‘n weggeehond.  Ook ‘n rooibruin Cocker Spaniel. ‘n Lewendige leepoog reuntjie wat jou inhardloop en hoog teen die kardeur opspring as jy die inrit opry.  Hy spring op die stoele, op die bank en selfs op die bed as jy nie agterkom nie.  Hy spring ook diep in almal se harte in met daardie stel bruin oë wat dieselfde emosie wakker maak as dié van ‘n jong kind.

Dit het Kiki ‘n ruk gevat, maar noudat die pikorde uitgeklaar is, is sy rustiger.  Daar is geen twyfel nie.  Kiki is die baas.

11 thoughts on “2008: Twee Leeus op die Voortrappies

  1. Pingback: Die Towerinne toer al weer – toortsie.com

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s