Hulle het op Rawsonville gebly…of soos die “locals” dit noem, “in die rou son”. Twee oujongnooiens. Die een ‘n huishoudster, die ander een ‘n laerskool juffrou. Die een met ‘n bestuurslisensie en vol grappies , die ander een baie korrek, diep en ernstig. Die een het die klavier gespeel, die ander een het lieflik suiwer sopraan gesing. Laasgenoemde is die een waarna die jong predikant tot haar verdwaasde begrafnisgangers se aanvanklike skok verwys het as FAT. (Flexible, Adaptable and Teachable.)
Dit was dan ook laasgenoemde wat ‘n blywende indruk op my gelaat het. Ons het met hart en siel gekorrespondeer. Sedert my kinderdae tot haar bejaarde dood. Die skryftafeltjie in my huis is ‘n tasbare herinnering hiervan.
Menige naweek is ons van Stellenbosch af die Rou Son in. Mamma,ons en ons weduwee ouma. Dan het ons alte lekker gekuier by die grapjas en miesies pas.
Daar was groot kamers in die ou pastorie…Oupagrootjie was die plaaslike predikant op sy dae. Ons het hom leer ken deur die foto’s aan die muur. Hy was baie musikaal en eksentriek. Hy het lieflik viool gespeel en as die orrelis nie opgedaag het nie, het hy op Rawsonville se kansel sy gemeente met die viool begelei.
My tannie Elsa het my geleer van familietrots. Sy het nouwel nooit kinders van haar eie gehad nie, maar het die laerskoolkindertjies as juffrou en as Sondagskooljuffrou gebrei. Vir ons familiekinders het sy baie beteken met haar volgehoue briefwisseling. Dit het ons taal en ons geestelike waardes en ons familiebande versterk.
Haar leeftyd het oor nege, amper tien, dekades gestrek. Sy het meer as een generasie vanuit die rou son gevoed. Haar naam was Elsa Loïsa Malherbe (vernoem na die eerste Malherbe Hugenote dogtertjie).
Praat jy!
LikeLike
Dit is ‘n baie mooi herinnering aan mense wat spesiale rol in mens se lewens speel.
LikeLike
Stoere vroue van daardie tyd. My Oupa van moederskant het ook gereeld vir my uit Holland geskryf. Daar was nog tantes wat dit ook gedoen het. Mens waardeer daardie bemoeienis wat hul gemaak het met mens as jong kind.
LikeLike
Scrapydo2, ja, hulle belê in die familie. Kyk dan nou net hoe oulik het ek en jy uitgedraai. ; – D
LikeLike
Netso. Dis net party dae moeilik om daardie stoere gewoontes oor te dra na die kinders wat hul eie ding wil doen.
LikeLike