2007: So Goed met Woorde

Jy is so goed met woorde!  Hoekom skryf jy nie?!  Hoeveel keer het ek dit nie gehoor nie…en as ek skryf, eintlik as ek eers lees wat ek geskryf het, haal bitter min artikels die drukker! (maar vir MY is elke verwoorde herinnering GOUD werd!)

Die lekkerste stories was die wat ek self beleef het en woord vir woord herleef soos wat ek dit neerskryf.  So was daar die stories oor Montpelier.  Dit was net eenvoudig ’n fantastiese ervaring.  In teenstelling met die vorige dikbek tienerervaring van Parys, was hierdie plattelandse briesie ’n lafenis vir die middeljarige siel.

Dis nou eenmaal so dat jy relatief inhibisieloos die lewe inkom, dan ’n erg geïnhibeerde lewensfase betree en daarna, dank Vader tog, weer relatief inhibisieloos word.

Jy doen nie ’n tiener of ’n student ’n guns as jy hom oorsee neem nie.  Hy is so gefokus op sy eie lewe dat die lewe rondom hom, hom totaal verbygaan (irriteer?!)  Belê veel eerder in ’n volwassene toer vir die toekoms.

Vir jouself?  Belê in oorsese reise vir jou en jou maat.  Iets waaroor julle later nabetragting kan hou.  Herinneringe wat jou geheuebank op jou oudag voed.  So het ek en my maat in die rugbytoer na Montpelier belê.  Daar was die opwinding van begrotings uitwerk en die ekstase as jy agterkom dis finansieel binne jou bereik.  Dan die internet soektogte na ekonomiese blyplek, vliegtuigkaartjies, rugbykaartjies.

Dan kom die reëlings vir verlof, vir plaasvervangers by die werk, vir paspoorte en visums en ‘n oorsese rybewys.  Geld word omgeruil, selfoonkaarte word oorgeskakel en skielik ontdek jy menige plaaslike mense was ook al oorsee!  Idees word uitgeruil, wenke word uitgedeel en almal gee insette sodat jy maksimum dividende vir hierdie oorsese belegging kan trek.

Opgewondenheid loop oor na spanning as visums en paspoorte vertraag word.  Die realiteit van die groot stap tref jou as jy met die kinders oppad is lughawe toe.  Hulle bly natuurlik agter met jou wiele, want hulle sal jou weer kom haal.  Oraloor is daar net goeie wense en optimisme oor hierdie avontuur wat voorlê.

Op die vliegtuig tussen Kaapstad en Johannesburg, is daar niks om oor opgewonde te raak nie.  Dis net ’n handjievol Suid-Afrikaners wat vlieg tussen stad A en stad B.  Dis op die vliegtuig tussen Johannesburg en Parys wat jy jouself moet knyp!  Dis net eenvoudig te goed om waar te wees!!  Maar die vlug wat die heel grootste indruk gemaak het, was die een tussen Parys en Montpelier.  Daar was ons verdwerg deur die uitlanders.  Die verskil is net…ons was die uitlanders.

En so was dit die hele tyd in Frankryk.  Dit was salig om die uitlanders te wees.  Die mense het gesukkel om hulleself verstaanbaar te maak en het hulleself ingestel om elke krom Franse uitdrukking van ons te verstaan.  Ons het so bemind gevoel.  Die feit dat Montpelier op die Franse platteland was, het ’n groot rol gespeel.  Die feit dat ons nie meer tieners was nie, beslis ook.

Dit alles het ek in my dagboek neergeskryf.  Dit was te goed vir woorde!

6 thoughts on “2007: So Goed met Woorde

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s