2007: Montpellier, mais OUI!

Hierdie hoofstuk vorm deel van die Towerinne se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en  onverklaarbaar. 
As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/2bf73617bd9249a48498418c9d7134f
https://fresh.inlinkz.com/party/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

Lees ook:
https://fresh.inlinkz.com/party/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

Nou vir die reis…hierdie keer volg die Goue Vroue virtueel die hele avontuur saam met Aalsie en haar Beer! HIERDIE IS ‘n WARE REISVERHAAL.

Kpsd – Jhb; Jhb – Parys(Charles de Gaulle);Charles de Gaulle—Montpellier

Die kinders laai ons by Kaapstad Lughawe af – twee ure voor vertrektyd.

Danie kry die blink idee om vir R25 die tas (eintlik twéé tasse, want die deftige klein tassie lê nommerpas – met twee pare tekkies bo-op en een paar swart stewels teen die kort sye ingedruk – binne in die groot tas.)  Rede? Net een tas waarvoor ons moet wag op die tas-voerbaan en ‘n ekstra tas vir die presente!

Verdere meevallertjie…ons gaan slegs een keer vir die toegedraaide tas wag – die tas gaan direk Montpellier toe, terwyl ons drie keer van vlugte verander.  Kpsd – Jhb; Jhb – Parys en laastens Parys – Montpellier.  Bo en behalwe die aardigheid om die Egoli-span op die Kpsd-Jhb vlug raak te loop, was die wonder van die vlug tussen Johannesburg en Parys ‘n hoogtepunt.

 Die hoogtepunt van die vlugvreugde het met die derde ( en laaste) vlug na ‘n laagtepunt verander.  Die een oomblik was ons nog in ekstase omdat ons nie, soos die res van die vliegtuig vir ons tas moes wag nie en net die volgende oomblik het ons met ‘n koorsagtige spoed na terminaal 2D afgesit omdat die Franse lugwaardin ons kaartjies net een kyk gegee het en gesê het “move quickly to 2D”.

Ons was by 2E…wat ons op daardie stadium nie geweet het nie, was dat 2D ligjare ver is van 2E af.  Letterlik in ‘n ander gebou, op ‘n hoër verdieping, by die voorlaaste hek.  (Hek 60).  Nadat die doeane ons twee keer terug gejaag het oor “liquids” in die drasak (salf is ook vloeistof!), is ons entoesiasties na hek 60 waar ons nie kon verstaan hoekom die vlug na Montpellier gladnie op die TV-skerms òf vertrekborde verskyn nie.

Toe die tyd vyf minute na vertrektyd is en ons agterkom die ander wag vir ‘n vlug na Munich, is ons bekommerd op soek na die naaste navrae toonbank.  “Nous sommes troubles…”Die lugwaardin was oulik en het diplomaties verduidelik dat ons vliegtuig reeds vertrek het.  Dat dit Air France se fout was, dat ons vorige vlug nie genoeg grasie toegelaat het vir die volgende vlug nie en dat ons tas saam met ons op Montpellier sou land.  Ons kon òf ‘n busrit reël na  Parys (Orley-lughawe) teen E160 en binne vier ure op Montpellier land, òf die volgende vlug van Parys na Montpellier vat wat eers binne ses ure sou vertrek.

Ons het besluit om die weg van die kleinste risiko (en sonder koste) te volg en het ses ure later weer by hek 60 gewag.  Dié keer suksesvol!

Intussen het die ses ure op Parys lughawe sy voor-en-nadele gehad. Gelukkig het die lugwaardin by die navrae toonbank ons geadviseer om weer buite die vertreksaal te beweeg na die winkels waar daar meer was om te doen.  Na so drie keer se heen-en-weer het ons ons weg terug deur die doeane gevind winkels toe.  Skielik het ons ook begryp hoekom die “bored stiff” meisie by die doeane punt haar oë gerol het toe ons die eerste keer ingeweeg het.  Sy het toe al besef ons is té laat vir die vlug Montpellier toe!

Buite die waggebied het ons ‘n lyn gesny na die “Pub” Restaurant en in die hoek gaan sit met al ons emosionele – en handbagasie.

Danie het ‘n selfoongeldkaart gaan soek en ‘n ou gekry wat die bedrag kon insleutel want ons kon nie die Franse telefoon “voice mail” reg interpreteer nie.  Wat ‘n wonderlike deurbraak!  Nou kon ons die hotel en Hertz laat weet dat ons op ‘n later vlug kom.  Maar…’n Franse stem het weer die mat onder ons uitgeruk.  Die nommers was tog reg?!  Na verdere hulp – sommer by die naaste boutique – het ons vasgestel die lyn was beset die eerste paar probeerslae.  Die hotel sluit eers elf uur en die Hertz kar sal vir ons wag.

Gelukkig was my selfoon by my en kon ons die noodsaaklikste nommers op die Franse selfoonkaart laai.  Dit was ‘n gròòt deurbraak toe ons vasstel ons kon met ons mense in Suid-Afrika praat!

Die lang wag op die Charles de Gaulle lughawe het ons kans gegee om ons Frans uit te toets.  Soos met alle mense, was daar dié wat net wou help en dié wat allebehalwe tegemoetkomend was.

Ons was redelik lyfseer van niks slaap op die vorige vlug nie en ons oë was so krapperig soos ons.

Die vlug na Montpellier was ‘n plesier.  Veral toe ons agterkom ons kry kos.

Op Montpellier lughawe was dit die eerste keer sedert ons vertrek van Kaapstad wat ons by ‘n tasvoerband moes staan.  Ons toegedraaide tas was dadelik uitkenbaar – die enigste toegedraaide tas!

Hertz toonbank was ook opvallend in sig.  Die meisie met wie ek vroeër die middag gepraat het was steeds aan diens.  Sy het ons omgepraat om versekering uit te neem en ‘n kitshappie van die begroting gevat.

Buite die lughawe is ons heen-en-weer, maar uiteindelik het ons ons kar gekry.  ‘n Fiat.  ‘n Linkerstuur Fiat met agterstevoor ratte en die vreemdheid van regterbaan bestuur, padkaarte lees in die nag en u-draaie by Franse tolhekke het begin.

Danie se komiese projeksie van ‘n heethoof vir ‘n navigator was by die heel eerste afrit (hopeloos verkeerd!) reeds besig om op ‘n volskaalse Griekse tragedie af te stuur.

Ons was op die regte snelweg, maar in die verkeerde rigting.  Twintig kilometer later het ons die eerste kans gekry om om te draai, maar nie voordat ons deur twee tolhekke is nie.  Gelukkig was dit donker en relatief laat en die verkeer min.

By die tolhek was daar egter niemand in die betaalhokkies nie.  Verder het dit kophou gekos om in die regte baan (wat kontant aanvaar) te land.  Maar hoeveel en waar gooi jy dit in?  Die karre én lorries het agter ons begin opdam en woes beduie.  Toe die ou agter ons begin toet het ek my top geblaas, na sy venster gehardloop en in perfekte Frans en met ingebore Franse temperament met min woorde beduie:“Nous sommes perdue!” “Aidez-moi.”

Ek het my hand vol euros na die Fransman uitgesteek en gevra “Combien?”, waarop hy die vyf euros uitgehaal het en gesê het ek sal kleingeld kry.

Maar waar om dit in te gooi?

Al die gleuwe was vir kaarte!

Sy tienerseun het onder hoë druk uitgespring, die vyf euros by my gevat en dit in, wat vir my gelyk het soos ‘n geel asblik, gegooi.  My drie euros kleingeld het by die slotmasjien uitgeklingel en die “boom” het genadiglik gelig sodat ons  en die res van die verkeer kon aanbeweeg.

Terwyl ons eenkant vir die stroom karre wag om verby te beweeg het ek behoorlik ontlaai.  “Ek weier om verder die navigator te wees!  Vanaand slaap ek net hier!!”  Dit was nogal ‘n aanloklike keuse want daar het heelwat groot vragmotors vir die nag gestaan.  Die probleem is, ons het alreeds vir die hotel betaal…aandete en ontbyt ingesluit.  Ons duurste oorblyplek vir die ganse toer.

Danie het my kalmeer, ‘n u-draai gemaak en ons het onmiddellik nog ‘n tolhek gekry.  Basies dieselfde tolhek, maar in die teenoorgestelde rigting.  Ten minste het ons nou geweet hoe dit werk.  Die verskil is, die geel asblik waarin ek die euros moes gooi was toegeplak!  Wat nou?  Gelukkig was die een hokkie beman – die een wat slegs kaarthouers kon gebruik.  Ek het verbouereerrd na die man gestorm en gevra “Ou?”  Waar nou?  Hy het beduie na dieselfde groen pyl waar ons was – die een met die toegeplakte “geel asblik”.  En…daar sien ek haar toe.  Daar sit toe al die tyd ‘n blonde vrou in die betaalhokkie en sy lag!  Ek kon vir Danie die handvol munte gee, wat hy na haar kon uithou en wonder bo wonder was dit ons laaste tolhek vir die aand.

Die pad hotel toe was ook langer as nodig.Ons het twee keer omgedraai om maar net weer op ons ou spore terug te ry.Dis eers nadat ons die eienaar van Hortel Baladin gevra het om op die roetekaart ‘n kruis te maak wat ons ons rigting na Hotel Balajan kon bevestig.

By ons hotel was die hek toe, maar daar het kinders op die trap gespeel. Die hek het geleidelik oopgegly en ons is stokflou na die ontvangs waar die hotelier maar stug was en sy vrou vriendelik.  Sy wou weet of ons VIS of vleis wil eet en Danie het dadelik gevra vir medium-rare steak!Ek het vasgehaak op slaai.

In die eetsaal het die man letterlik stoele rondgegooi in die agtergrond en “bon appetit” ons toegesnou.Ons het heerlike groen slaai met ganslewer, gewone lewer en ander repies vleis gekry.Alles natuurlik blink van die olyfolie.Ons het verbasend lekker geëeet.Soveel so dat Danie sy stek gekanselleer het.Dit was vir ons v reemd om ‘n beker water by die kos te kry.Iets wat dwarsdeur Frankryk deel van die eetpatroon was.Water selfs al bestel jy wyn ook.

Ons het ons tasse met moeite oopgesluit en die tiebacks aan die ritssluiters losgesny.Ons het gaan bad en ingekruip.Albei gedreineer na die afgelope paar ure se aanpassing, ontnugtering en oorlewing.

Wonder bo wonder het ons heerlik geslaap totdat die selfoon se wekker en later die selfoon self gelui het.  Dit was Mamma met die nuus dat Oupa Hennie sesuur die oggend oorlede is.  ‘n Era was verby en ‘n Belewenis het voor ons uitgestrek.  Ons het ontbyt gaan eet en ons eerste vakansiefoto’s begin neem.

Danksy die vorige aand se chaos was die A9 en die tolhekstelsel ou nuus.  Ons het soos pro’s die lang pad suide toe aangedurf.Die eerste dorpie waar ons gestop het was Frontignan (net voor Sête).

Ons het by die naaste vulstasie geparkeer en die pad gevat op soek na ‘n SFR selfoonkaart.  Danie het die polisieman by die vulstasie voorgekeer, wat hom aan die meisie binne die winkel oorhandig het en die polisieflap op sy baadjie weggevou het.  Sy motorfiets was nog duidelik Polisie gemerk!Met die kennis van telefoonkaart koop by ‘n tabakwinkel of dan boekwinkel, het ons die kusdorpie ingevaar en veel meer as ‘n SFR-kaart gekry.

Daar was ‘n imposante hotel, gedrapeer met Franse vlae met ‘n fontein op die plein en omringende straatkafeetjies.  Maar die oulikste van alles was die varsproduktemark wat binne-in ‘n ou gebou was.  Rye vis en mossels is op ys uitgestal, netjies verpakte en verwerkte vleissnitte in ‘n stalletjie langsaan en dan was daar olyfolies en kruie en plaasprodukte.  Ons was nog te beskeie om in die winkel foto’s te neem.Daarvandaan is ons terug op die A9 in die rigting van Sêtes.

Ek kon nog steeds nie ontspan met Danie aan die regterkant van die pad nie.  Ook nie om dowe neute nie!  Toe hy vir die soveelste keer te regs ry tref hy uiteindelik ‘n geparkeerde kar se spieël met ons spieëltjie dat ons spieëltjie eintlik toeklap.  My woedende reaksie? ”Net more ry ek met oogklappe aan!  Verstaan jy nou wat ek bedoel as ek sê jy ry te regs?!!”

Met die padkaart kon ek nou eenmaal nie regkom nie.  Ons het op ‘n stadium ‘n Fransman sien petrol ingooi en langs hom ingetrek om die pad na Bésiers te vra.  Hy het gelukkig ‘n GPS in sy kar gehad!  Kon nie Bésiers aanvanklik behoorlik spel nie, maar kon baie akkuraat vir ons wys dat ons binne 800m na regs moes draai en op ons pad sou wees.  Fantasties, die tegnologie. 

Ek het vir ‘n vlietende oomblik oorweeg om ‘n derde van my begroting op ‘n GPS te blaas.  Gelukkig het die gedagte net so vinnig as wat dit ontstaan het oorgewaai.Ns Sirkels en padborde was aan die orde van die dag.  Danie se vermoeëns om regsom ( met die linkerstuur) om ‘n sirkel te beweeg en regs te bly het met elke draai verbeter.  Ons het rondom Perpignan.  Beweeg na Ille sur Têt en daar gestop vir kosvoorraad.  Dit was die beste verrassing van die ganse toer.  Ons kon nie glo dat daar mense in sulke Mideleeuse eenhede kan bly nie.  Ons is straat op en straat af.  Die een poort wou nouer wees as die ander.  En daar was lewe!

 Blomme en wasgoed op die stoepreëlings, mense in die strate, musiek uit die oopvertrek en ‘n kerkmuseum waar ons ‘n Hollandse katalogus gevat het.

Terug in die binnehof—sentrale dorp—het ons gou vertroud geraak met die bankkaarte.  Selfvertroue opgebou met die Frans (alhoewel die kelnerin nie kon help om te glimlag toe ek vra of die winkel “couvert” in plaas van “fermé” sal wees tot half drie nie.)

Die winkel, Shopi, het in al ons kosbehoeftes, behalwe gewone suiker  voorsien.  Ons het poeiersuiker gekoop.

Rodés was ‘n hanetreetjie (3km?) vanaf Ille-sur-Têt.  Ons het die internetinstruksies noukeurig gevolg en die keer reg voor die ligblou garagedeur van nommer 29 rue d’église gestop.  Die kerkie (église) was aan die bopunt van die straat.

Na ‘n bietjie kopkrap het ons die sleutelkluisie oopgekry en in ‘n ietwat bedompige leë garage ingestap.  Regs agter was daar ‘n terracotta trap wat opgewentel het na die eerste vlak tot by die voordeur met twee slaapkamers op vlak een en verder opgewentel het na die tweede vlak waar ‘n gesellige dakvertrek was wat uitgeloop het na die stoep aan die voorkant en die toilet aan die agterkant.

Binne hierdie vertrek was ‘n drie-sitplek room bank, een bypassende stoel, ‘n kelimmat, lampie, telefoon en radio-en CD-speler in die sitkamer gedeelte.  In die res van die dakvertrek was ‘n soliede vierkantige houttafel met vier liggewig hout riempiestoele en ‘n bottel rooi wyn op die plastiek geblomde tafeldoek.

Teenoor die tafel was ‘n volledige kombuisie met gasstoof, yskas, wasbak en houtkassies vol eetgerei.  Genoeg vir ses.  Uit die kombuis het ‘n stel trappies (6) bo na die toilet/stort/wasbak-vetrek geloop.

Wasmasjien, haardroër, DVD-speler, strykyster…alle basiese luukshede was in die woonstel.  Albei selfone kon met ons eie laaiers in die tweepuntproppe laai.

Daar was ‘n wit vere-duvet in die hoofslaapkamer, Engelse boeke oor die streek, kaarte en storieboeke wat ons kon lees as ons tyd kon vind daarvoor.  ‘n Regte tuiste!

Die volgende oggend was dit koud.  Dit het die nag gereën.  Die bergpieke was vol sneeu en ons selfoon se tyd was op.  Ons het afgestap kafee toe.  Daar was selfoonkaarte maar g’n ontvangs  op die foon nie.  Die kafee-eienares het rondgeloop totdat sy ontvangs gekry het en die selfoon vir ons gelaai.  (Die Franse fooninstruksies was steeds onverstaanbaar!)Ons het wasgoed gewas en in die wind opgehang.  Die vorige twee dae se opwinding en terugslae het ons tot stilstand gedwing.

Ons is VinÇa toe waar ons vitamine C-bruistablette gaan koop het. (Die apteker het beduie na die “sjj” of die “tandeklap”-koutablette.)

Dis by VinÇa waar ons die eerste keer ‘n toilet sonder sitplek teëgekom het.  Dis ook by VinÇa wat ons agter gekom het dat die vulstasie slegs petrolkaarte – en beslis nie Visakaarte nie – vat.

Ons het gaan uitvind wanneer die banke oopmaak en is die volgende oggend nege uur terug bank toe.  Net om vas te stel dat die naaste vulstasie wat wel geld aanvaar (maar wat beman is) by Ille-sur-Têt of Prades is.  Gelukkig het ons nog ‘n half tenk petrol gehad.

Ons is terug Rodés toe waar ons weer gaan nesskrop het, wasgoed gestryk het en die volgende dag beplan het.Ons was gereed vir Perpignan.  Dit was die grootste dorp/stad in die omgewing en ons het reg op die parkade af gery.  Daar het ons met die intrapslag ‘n parkeerplek gekry en uitgewerk dit sou ons maksimun vyftien euros kos vir die dag.  Ons was in beheer.

Opvallend van die Franse is hulle uitstekende padaanwysings en die bedagsaamheid van die bestuurders ondanks die druk verkeer waar Perpignan selfs vir Kaapstad verbysteek.

Uit die parade is ons na die naaste plein, al langs die rivierloop af en tot in Gallerie Lafayette, ‘n vierverdieping afdelingswinkel waar ons die eerste standaard openbare toilet teëgekom het.  Danie kon sy oë skaars glo toe hy ‘n fotograaf sien wat ‘n Franse meisie in skrapse “lingeree” binne-in die aanpashokkie afneem.

Dis van die boonste verdieping van Gallerie Laffayette wat hy my aandag gevestig het op die res van Perpignan—’n Middeleeuse stad!!

Ons is uit die winkelsentrum deur die ou stadspoort na ‘n restaurant waar ons pizza’s geëet het, sangria gedrink het en ons vergaap het aan die stad se mense.  ‘n Student het by die restaurant gesit en kitaar speel en ‘n ou tannie het speels gedans en gedirigeer.  Die Franse meisies se heupies was opvallend smal.

Ons het die ou gedeelte van Perpignan van hoek tot kant deurgeloop, aarbeitertjies gesit en eet en terug beweeg parkade toe.  Ons het die parkade verbasend maklik gekry en die instruksies vir betaling reg gekry.  Danie het kopgehou met die rigting en ek het vinnig genoeg die regte borde geïdentifiseer en kort voor lank was ons uit Perpignan terug oppad Rodés toe.

Perpignan sal ek onthou as ‘n vriendelike stad.  Van die bankier waar ons geld gekry het vir die parkering, tot die jong meisie wat by die SFR ons selfoon gelaai het en die kelner by Restaurant Roma en selfs die winkeleienaars was gemoedelik dog sterk Frans.  Perpignan het ‘n sterk Spaanse of dan Katelaanse invloed.  Selfs die straatname is in Frans en Spaans.  Die plaaslike kos was eerder paella as coq-au-vin en die wyn was sangria.  Tog het almal Frans gepraat.  Die stegies was vuil en nie so onskuldig soos die by Ille-sur-Têt nie.  Dit was baie kosmopolitaans.

Ons was verlig om terug te wees by Rodés.  Ons het so teen vyf namiddag skoolkinders gesien afstap met rugsakke op die skouers.  Danie het nog opgemerk dat dit lyk of hulle almal in dieselfde ongeluk was want drie van die sewe het ‘n seer voet of been gehad.  Ons was verras om te sien dat hier op Rodés ook ‘n skooltjie was.  Ons het die woonstelboeke oor die streek gefynkam en besluit om die geel treintjie deur die berge sowel as Andorra ‘n mis te gee.  Ons het nie kans gesien vir ‘n “perilous” roete deur die berge nie.  Ons wou liewer meer van die mooi plattelandse dorpies sien.

Ons het besluit op Prades, Eus en Mosset.  By Prades het ons brandstof ingegooi en heuning by die straatmarkie gekoop.  By Mosset het ons parfuum  gekoop en na hulle plaaslike operakoor-oefening gestaan en luister en die hoogtepunt van die oggend…die dorpie Eus waar ons meeste van ons gesenke gekoop het.  Soos Ille-sur-Têt, was Eus ook middeleeus en skoon en toeristevriendelik.  Die verskil is, waar Ille-sur-Têt plat was, was Eus (soos Mosset) teen die berg gebou, met die katedraal heel bo.

Ons het die aanduidings na die geskenkwinkeltjie gevolg waar daar  ‘n ou tannie gesit het en bedagsaam stadig Frans met ons begin praat het.  Sy het gesê sy het ‘n Engelse familielyn maar kan nie self Engels praat nie.  Sy kon aan Danie se mond en oë (en grootte) agterkom ons is nie Frans nie.  Sy het ons vriendelik aangemoedig om alles te koop. “Achetez tous!”

Aanvanklik kon ons nie veel sien wat ons wou koop nie, maar hoe langer ons daar staan en gesels het, hoe meer het ons raakgesien.  Daar was T-shirts en serpe.  Wynsakke, sleutelhouers, glaspoppies, mandjies, eetlappies, koekies, CD’s en keramiekbakkies.  Op die ou end is ons daar uit met keramiekbakkies, ‘n CD, ‘n wynsak en soet tertjies.  Alles netjies verpak.  Die vroutjie agter die toonbank het uit haar eie ‘n pakkie droë koekies en miniatuur lapsandaaltjies ingesit.  ‘n Foto is geneem van haar, ‘n klein dogtertjie met ‘n kat en my.

Ons is hoog tevrede en gelukkig daar weg.

Die kerkklok van Rodés het sy unieke vier luie en daarna tien luie gegee.  Die vier vooraf het herinner dat die vierde kwart aangebreek het en die tien ure het bevestig dat dit tienuur was en tyd om te vertrek.  Die kerkklok het een keer vir die eerste kwartier, twee keer vir die halfuur, drie keer vir die derde kwartier en vier keer vir die uur gevolg deur die aantal ure gelui.  Ons is teësinnig daar weg die onbekende in.

Teen middagete het ons by ‘n groot vulstasie/eetkompleks afgetrek en saam met ‘n paar toerbusse en nog meer plaaslike Franse daar geëet.  Dit was terwyl ons daar geëet het wat die verassingsreëlings met ons huismense getref is.  Die begrafnis is geskeduleer vir die Maandag na ons tuiskeer.

Die internet instruksies het ons gelei tot by die afrit na Montpellier middedorp, die “Centre Ville”, maar toe draai ons een afrit te vroeg af en verdwaal.  Gelukkig het ‘n Fransman ons gehelp.  Ons het hom gesien petrol ingooi en die pad gevra.  Hy het gesê hy het ‘n afspraak naby ons blyplek en het vooruit gery tot by ons straat of ten minste baie naby daaraan.

Die praktiese probleem was dat alhoewel ons die plek op die kaart kon sien, kon ons nie met die kar daar uitkom nie.  Ons het die kar gaan parkeer en met die padkaart geloop tot waar ons weer kon vasstel waar ons is.  ‘n Ou Franse omie het die instruksies saam met ons gevolg en al die ent – so drie blokke – saam met ons gestap tot by Rue Ernest Castan nommer 3.

Ons twee het terug gestap kar toe en is na twee probeerslae in die regte rigting na ons nuwe blyplek.  Daar het ons op die enigste oop parkeerplek gaan staan en die klokkie van nommer 3 gelui.

Alexandre Bellis (19) het ons kom verwelkom.  Sy ma-hulle was nie tuis nie.  Dit was Sondagmiddag vieruur.  Ons het ons rugbykaartjies vir die eerste keer op die toer uitgehaal om vas te stel op watter stadion die Springbokke speel.  Mosson.  Danie wou nog weet of ons met ‘n taxi kon ry, maar Alexandre het net sy kop geskud en geglimlag.  Daar was ‘n makliker manier.  Ons moes die Tam (trem) vat vanaf die middedorp.  Op ons vraag oor waar die middedorp is, het hy gesê maar ons is in die middedorp.

Ek het Alexandre gevra of hy nie asseblief saam met ons na die Tam toe wil stap en vir ons wys hoe werk dit nie, want ons ken dit nie.  Hy het goedig saamgeloop, ons retoerkaartjies gekoop en ons aanbeveel om vyfuur op die Tam te klim.  (Dit was half vyf.)  Tussen 6nm en 11nm sou die normale Tam roetine nie vir die dag beskikbaar wees nie, juis as gevolg van die rugby.

Terug in die kamer het ons eers ons appelsap en groot snye appeltert en druiwe geëet voordat ons die pad afgestap het Tam toe.  By die Tam was die tye duidelik sigbaar op die elektroniese bord.  Ons wou ry in die rigting van Mosson.

By Mosson was ‘n cul-de sac.  Die tam het ons tot daar geneem om later die aand binne minute uit mekaar een na die ander ‘n kopswaai te maak om al die rugby geesdriftiges terug te neem na Montpellier se klomp dienspunte toe.  Alles elektronies met aankondigings en met geografiese voorstelling van die vordering op elke stop van die roete duidelik sigbaar.

Opvallend van die Franse is hulle deeglikheid van informasie.  Elke ou straatjie se naam is duidelik sigbaar op naamplaatjies op die hoekgeboue se mure.  In Montpellier slegs in Frans, terwyl in Perpignan in Spaans en Frans en – verbeel ek my of was dit in Prade slegs in Spaans?!

Ons “tam”-stasie was reg in die middel van Montpellier, soos Alexandre tereg gesê het.  Die geografiese uitbeelding van die tam-roetes het dit bevestig.  Ons was meer as beïndruk met Alexandre.  “Gentile”.  Sy Engels was besonder goed en hy was die toonbeeld van welwillendheid.  “I don’t want to lose you, do I?”

Dit was dus met selfvertroue gewapen met die gemoedsrus dat ons op die eindpunt afklim, daar waar die rugby stadion is met ‘n klaarbetaalde retoerkaartjie na Louis Blanc in die sak.

Hoe nader ons aan Mosson beweeg het, hoe meer opgewonde het ons geraak.  Ons droom was besig om waar te word.  Ons was in Montpellier vir die Wêreldrugby.

By Mosson was alles voor-die-hand-liggend.  Danie, soos meeste ander, het sy Springboktrui aangehad en sy hoedjie, wat ene Johan Dippenaar van Bonnievale se wêreld wou ruil vir syne wat nie al die lande se rugbywapens opgehad het nie. ( Nodeloos om te sê…daar was nie ‘n kans nie!)  Opvallend was die aantal engelse Suid-Afrikaners.  Hulle was ook nie geneë om met ‘n mens oogkontak te maak nie.  Hulle het die anonimiteit geniet.  (Daar was darem later die aand ‘n vriendelike een op die “tam”; seker omdat ons vir hom en sy maat plek gemaak het!)

Ons het twee stoele in die hande gekry en op die gras gaan sit om later na ‘n leë tafeltjie te beweeg.  Daar gesit het ‘n groot Brit gevra of hy en sy twee vriende daar by ons kon sit.  En het ons lekker gesels?!

Die drie Britte was deel van ‘n groep van tien wat op ‘n gereelde basis oorsee reis.  Hulle het ‘n boot met ‘n goeie sjef en skipper aan boord  gehuur op die kanaal en het terloops na die rugbywedstryd kom kyk aangesien hulle in Montpellier is.

Na ‘n uur se kuier buite die stadion het ons plegtig elkeen se hand geskud en beweeg hekke toe.  Uitstekende veiligheidsmaatreëls is toegepas.  Behalwe vir die opvallende teenwoordigheid van die Franse polisie, het die Franse veiligheidswagte ons deursoek – ‘n man vir Danie en ‘n vrou vir my.

Oral by die uitgange was daar mense wat plekke aangewys het.  Ons paviljoen was heel links en onder dak.  Ons het op die eerste verdieping in die tweede ry agter die Bokke se pale(eerste rondte) gesit.

Die Springbokke was besig om op te warm hier reg onder ons.  Die Amerikaners het ook opgewarm aan die oorkant van die veld.  Hulle opwarming het baie soos “line dancing” gelyk.

Die paviljoene was redelik vol.  Daar was ongeveer 31 800 mense by die wedstryd en die skare het ‘n goeie gees gehad.  Elke nou en dan het almal geskree “Olé!”

Die pawiljoen regs van ons , oorwegend Springbok-ondersteuners te oordeel aan hulle klere, het elke keer ‘n Meksikaanse golf geïnisieer.  Elke rondte was meer suksesvol as die vorige een.  Teen halftyd het al die pawiljoene saamgespeel.

Langs my het vier Amerikaners gesit.  Maar ook nie vir lank nie.  Net na die eerste helfte was dit duidelik dat die Bokke oor die Yankees loop.  Die eindtelling was 62:15.  Die Amerikaners het opgestaan en geloop net na halftyd.

Links voor ons was ‘n paar jong Suid-Afrikaners (Engels) met die landsvlag agter hulle rue vasgemaak.  Hulle het foto’s geneem en probeer om van bo af met die Springbokke te praat.  Regs voor ons was ‘n omie en sy vrou.  Op ‘n stadium het die Bokke droog gemaak en die oom het “*ak Bokke!” geskree.  (Dit was nie “takbokke” nie!)

Agter ons was jong ouens met geverfde gesigte – ook Suid-Afrikaners.  Die een outjie het op ‘n hoë noot sy vreugde uitgegil elke keer wat die Bokke presteer het.

Verder het die skare spontaan begin hande klap met elke moontlike kans vir die skoppers om punte aan te teken.  Die “boo’s” was meestal gemik op die skare wat die Meksikaanse golf se ritme gebreek het.

In retrospeksie was daar meer ondersteuning vir die Amerikaners as vir ons.  Seker maar omdat die mense geneig is om die ouens met die minste kans op oorwinning te steun.

Ons is doodgelukkig en tevrede daar weg. (Net jammer Danie het my swak advies gevolg om die kamera in die kamer te los!)  Die stroom mense oppad “tam” toe was oorweldigend.  Gelukkig was daar nie veel sprake van ‘n gedruk nie; behalwe by die hek na die peron.  Die veiligheidspolisie het die mense getel en net die nodige getal op die “tam” toegelaat.  Ons was styf gestop en moes by die deur bly staan.  Danie het met ‘n Johannesburger begin gesels wat vertel het hoe maklik hy met die GPS rondry.

Ons was van die eerstes om af te klim by Louis Blanc.  Ons het die bekende pad terug na Rue Ernest Castan gevolg en was elfuur in ons kamer waar Mme Bellis vir ons koekies en vars water neergesit het en die volgende oggend se ontbyt.  (Vrugte, gewone yoghurt en vars brood.)

Ons het haar ontmoet en dieselfde gemoedelikheid as Alexandre s’n ervaar.  Haar Engels was net baie slegter as syne, maar so tussen die Engels en die Frans deur het sy ons touwys gemaak met die besienswaardighede in Montpellier.

Maandagoggend het ons ons ontbyt op die terras geëet en was ons net betyds klaar toe ‘n fyn reën was gou oor en ons het met die kaarte Montpellier se middestad ingevaar.

Danksy die vorige dag se roete het ons met vertroue na die stadsentrum gestap waar ons langs die promenade gedrentel het, winkels en mense gefynkam het en elkeen ‘n bord slaai geëet het.(Met die keuse van asyn of olyfolie.)

Intussen het my voete my opgekeil van al die gestap.  Ek het ‘n paar Crogs sandale gekoop en my tone het my die aand daaraan herinner.(Dit was met die koop van die Crogs wat ek my Visa-kaart in die winkel vergeet het.  Gelukkig het ek dit vinnig agter gekom en het die kaart op die apteek se toonbank gevind!)

Die hoogtepunt van die dag was die GPS.  Dié het ons by die boekwinkel raakgeloop.  Dieselfde boekwinkel waar ek die beweeglike houthand vir pa gekoop het.

Die aand terug by die kamer het Danie, met die hulp van Alexandre, die taal na Engels verander en die roete vir die volgende dag ingesleutel.  Ons sou ons weg na Lattes vir Donderdag se kitaaruitvoering hopelik ook vind.

Dinsdag het ons die wêreld plat gery met die GPS.  Dit was net te goed om waar te wees!  Ons het na Sête gery waar ‘n Fransman vir ‘n verdwaasde Danie die vinger gewys het.  Dis omdat ons verby hom gery het en hom nie die voorkeur gegee het om uit sy parkeerplek reg voor ons in te ry nie!

Verder af in die straat was daar nog ‘n ontstoke Fransman.  Hy was besig om oor die brug te ry met sy motorfiets, toe ‘n kar van die kant af inkom en hom amper skraap.  Hy het toeter geblaas en die ander man (‘n swartman) tot stilstand gedwing.  Hulle het baie beduie en hulle paaie het uitmekaar gespat.  Die Fransman was so ontsteld dat hy amper ‘n voetganger – wat op haar beurt tekere gegaan het – raak gery het.

Ons is straat op en straat af by Sête en het foto’s van die kanaal geneem.  Al langs die kanaal was daar bootjies vasgemeer.  Ou rommel, soos ‘n verroeste hek, leertjie en ou koffiemasjien was duidelik sigbaar op die bodem van die vlak kanaal.

By die plein het die geur van seekos paella ons aangetrek.  Ons het saam met die res van die plek se mense gesit en paella eet.  My een mossel was so dig toe, ek moes dit met ‘n mes oopdwing.

Oral in die restaurant was – wat vir my gelyk het – Amerikaanse vlaggies.  Toe ek die kelner vra of hulle die Amerikaners ondersteun, het hy verduidelik dat dit Kubaanse vlaggies was!  (‘n Rooi-en-wit ster in ‘n driehoek wat afkyk op eweredige blou-en-wit strepe.)

By Sête het ek onder andere die Franse fraiinggordyne en ‘n Franse CD (Joanie s’n) gekoop.  Die fraiinggordyne was dalk impulsief, maar die CD was ‘n fonds.

Van Sête af is ons na Frontignan (ons tweede besoek) sodat Danie die “Boucherie” met sy netjies verpakte vleis kon afneem.

Dis in Frontignan wat sy selfoon twee maal gelui het en dieselfde Fransman wou weet of dit “Danie” was.  Danie het elke keer die foon vir my aangegee.  Die eerste keer het ek gesê: “Je ne comprends pas.” En die tweede keer het ek bevestig dat dit Daniel se selfoon is, maar dat hy asseblief stadig moet praat.  Hy het stadig en duidelik verskoning gemaak en gesê dis sy fout en het afgelui.

Ons het tevergeefs by die see probeer uitkom en het ietwat gefrustreerd terug gekeer Montpellier toe.  Ons het die GPS-stemmetjie se aanduidings slaafs gevolg.  Soveel so dat ons reg binne ‘n parkade ingery het en net so vinnig daar uit is.  Gelukkig het ons vinnig herstel want die GPS het kop verloor onder grond.  Bo-op die padoppervlakte het die GPS vinnig die rigting uitgewerk en ons kon weer met vertroue die instruksies noukeurig volg, reg deur die dorpsentrum van Montpellier ry, bo-oor die “tam” spore na Ernest Castan nommer 3 waar ons enigste probleem was dat daar nie dadelik parkeerplek was nie.  Daar was ‘n vergadering by die kerkie regoor die huis en terwyl ons voorhek toe geloop het, het die mense klaargemaak en het twee parkeerplekke beskikbaar geraak.  Danie het die kar voor die huis kom parkeer – met sy neus in die verkeerde rigting.  Dis nog iets wat ons agter gekom het.  Die Franse parkeer agterstevoor as hulle nie anders kan nie.

Ons het televisie gekyk en vroegaand omgekap.

Woensdag is ons na St Guilheim-Le-Désert. ‘n Duitse toerbus het net na ons gestop met die gevolg dat die dorpie gewemel het van die toeriste.  Wat opvallend was, is die “pot holes” en die groen meer.  Dit was alles behalwe ‘n woestyn.  Die dorpie is gesentreer rondom die katedraal van Saint Jean.  Ons het ‘n sleutelhouer en ‘n mannetjie aan ‘n lugballon gekoop.

Daar was heelwat geskenkwinkeltjies.  Leerprodukte, metaalplaatjies, pottebakkery en selfs ‘n Indiese winkeltjie.

Die restaurant het ‘n “Plat du jour” gehad, maar na ons ondervinding by Prade het ons begin ligloop vir ‘n “plat du jour”.  Danie is oortuig daarvan dat dit perdevleis is wat ons die dag in Prade se namiddagsonnetjie sit en eet het!  (Hy kry nou nog rillings daaroor.)

Ons het die restaurant wat in ‘n grot ingerig is, ingestap en tussen die res van die toeriste beland.  Ons was rasend honger en het twee pizzas en een pannekoek (crêpe) bestel.  Gelukkig kon ons betyds die bestelling kanselleer en liewer groen slaai bestel.  Die pizzas was vullend en die rissies in die olyfolie het gebrand.

Ons het besluit om nie op ons ou spore terug te ry nie maar deur St Martin-des-Londres.  Al probleem was, daar was ‘n padboukonstruksie.  Ons GPS het nie voorsiening gemaak viir padkonstruksies nie.  Ons is op ons ou spoor terug en het deur Aniane terug gery.

Die verkeer was minder in Montpellier as die vorige dag.  Ons het nietemin foto’s uit die kar geneem om die gevoel van die verkeer weer te gee.

Daar was nog genoeg tyd om ham en kaas in die middedorp te gaan koop.  Ons het vinnig geholpe geraak en vir ‘n uur lank dieper in geloop.   Ons was op die dak van die Corum en het die krieweling gekry dat daar ‘n paar ongewenste immigrante saam met ons op die Corum se dak was.  Met die aand se nuus is daar verwys na ‘n insident tussen die Franse polisie en twee Kurde op ‘n brug in Montpellier.

Terug in die kamer het ons kos aanmekaar geslaan en lekker rustig TV-nuus gelê en kyk.  Die volgende oggend is ons vroeg terug middedorp toe.  Dawid en Charl moes nog geskenke kry.  Ons het ‘n Franse onderbroek (Dawid) en twee Engelse “Best Sellers” oor Frankryk vir Charl gekry.  Vir Kobus het ons ‘n Gregorian CD gekry.

Ons het middagete in die kamer kom eet en die pad gevat Aigules-des-Mortes toe.  Daar was ons verras om twee juffrouens met twee spanne laerskoolkinders op die sportterrein raak te loop waar hulle ‘n hardloopspeletjie gespeel het.  Hulle het uitbundig te kere gegaan.  By die poort van die dorpie (die dorpie is vierkantig deur ‘n ou muur met vier poorte omring) het drie oumense op ‘n bankie gesit.  Digby die ingang het die heel eerste toeristewinkeltjies ons opgeval.  Die nou straatjie het gewemel van die toeriste.

Opvallend was die kruis van Charlemagne wat uit ‘n kruis-hart-anker kombinasie bestaan en geloof, liefde en hoop simboliseer.  Daar was ook die bekende Hugenotekruis wat ons later selfs op die muur van die Montpellier lughawe herken het.

By die eerste dwarsstraat het ‘n groot roomyswinkel ons aandag getrek.  Danie het twee verskillende geure in een massiewe roomyshoring bestel.

Nog ‘n winkeltjie wat ons moes afneem. Was die kleurvolle uitstalling van koekies, lekkers en olywe.  Alles onder een dak.  Daar was heelwat winkels met klei en porseleinprodukte.  Reuse porselein vlieë was oral te koop.  Ons kon nie heeltemal agterkom wat dit simboliseer nie.

Buite een van die poorte het ek op ‘n harde bankie gaan sit om my moeë voete te vryf.  My voetsole was al vierkantig van al die loop.

Daar was ‘n karavaanpark net buite die dorp.  ‘n Handjievol Franse het met ‘n langsteelgraaf gespit sonder om hulle knieë te knak…amper soos om ‘n nat vloer met ‘n mop droog te vee.  Hulle was besig om sand weg te werk.   Daar was ‘n klomp stellasies in ‘n sirkel rondom die sandarena gepak.  Danie het nader gestaan om uit te vra oor die arena.  Die een jongman het in gebroke Engels vertel dat hulle ‘n week vantevore ‘n bulgeveg gehad het en nou besig was om op te pak.

Ons het ‘n laaste tevergeefse poging aangewend om by die see uit te kom en toe besluit om liewer deur Montpellier te gaan stap.

Die Kitaarfees was ‘n fees (veral omdat die vioolspeler so ‘n kaartmannetjie was.

Ons het met gemak die aand Latte toe gery en terug.  In Latte het Danie sy steak geëet en eers later besef watter pond vleis dit gevat het.  Dit was eenvoudig peperduur!

Die volgende oggend het ons dit rustig gevat.  Dit was ons kans om nog vir oulaas in Montpellier te gaan stap en geskenke vir die familie te soek.  Ons het veral die boekwinkels geniet.  Verder was ons ernstig op soek na rugby souvenirs vir ons huismense.  Ons het gelukkig reggekom by die sportafdeling van Galleries Laffayette.  Daar was silwer sleutelhouers met ‘n rugbytrui (RSA-vlag) en ‘n silwer rugbybal wat in die onderste hoek in die rondte draai.  Ons het ook ‘n plastiek Franse hemp sleutelhouer vir Abri gekoop omdat hy ons paspoorte vir ons van Caledon af gebring het.  Die Farnse hempie het, as jy op die maag druk, weggetrek met die Franse volkslied!

Maar die kopie waaroor ons die meeste opgewonde geraak het was die Katelaanse deurklopper, ‘n geelkoper handjie wat na onder wys en op ‘n plat knop slaan.  Oral op die ou deure in die streek was soortgelyke deurkloppers.  Ons het verby die soveelste slaghuis gestap en Danie het vir himself ‘n stukkie droë wors gekoop.  Dit was nie lank daarna nie wat ons ons oë bot toe gelag het – onsself letterlik tot stilstand gelag het te midde van die voetverkeer van Montpellier.  Ons het by ‘n trekklavierspeler verbygeloop en by twee ouens en ‘n meisie met lang blaaspype gaan staan.  Hulle het soos wit Rastafrarians gelyk.  Ons moes eenvoudig ‘n foto neem.

Oppad huistoe is ons by ‘n juwele winkeltjie in.  Dis daar waar ek vir die familie se vrouens oorbelle gekoop het en vir myself die wit krale en oorbelle.  Die juwelier het haar werkswinkel in die winkel gehad en was bereid om ‘n string krale op bestelling op te maak.  Sy was gefassineer net ons “dialek”, Afrikaans.

Ons het aangestap kamer toe en besluit om af te sien van die plan om in die eendeweer piekniek te hou.  Ons sou vir oulaas in die kamer eet maar daar aangeland was die huismense besig om dit skoon te maak vir die volgende gaste.  Ons het sommer in die kar voor die huis gesit en eet.  (Ons het met die huismense gereël om eers twee uur teug te wees en dit was toe eenuur.)  Die volgende gaste sou eers sesuur die namiddag kom.  Mme Bellis het voorgestel ons rus eers nog ‘n bietjie voor die vlug terug.  Ons het besluit om die rus ‘n mis te gee en het ons piekniekkos in die kar se paneelkassie uitgestal.  Daar het ons die verkeersknoop dopgehou wat aan die eindpunt van die straat opgebou het.

Monsieur Bellis en Alexandre het minute na mekaar uit die motorhek op fietse uitgey gekom en ons is kamer toe.  In die kamer het ons ons laaste paar goedjies gekry en op Mme Bellis se aandrang foto’s op die grasperk geneem.  Sy het saam met ons deur die vakansiefoto’s op die kamera gekyk en lekker gelag vir my wat na “Boucherie Chevalier” in plaas van “Boucherie Chevaline” verwys.  ‘n Chevalier is ‘n ridder en ‘n Chevaline is ‘n perd.  Dit was inderdaad ‘n slagter van perdevleis waarna ek verwys het.

Sy wou weet wat ons noemname is en het gesê haar ouers is Spaans.  Dit het weer eens die sterk Spaanse invloed in die suide van Frankryk beklemtoon.  Haar naam is Espérance. (Hoop).

Ons het gegroet.  ‘n Franse soen – een teen elke wang – vir my en ‘n handdruk vir “Daniel.”

En toe wen die Bokke die Wêreldbeker in Frankryk!

10 thoughts on “2007: Montpellier, mais OUI!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s