1984: “Dis ‘n Rooikoppie!”

Ek hou die muurhorlosie dop.  20 voor 8.

“Dis ‘n rooikoppie!”, roep sy triomfantelik uit.

Ek kyk die verpleegster verslae aan.  Ek sien dan nie eens hare nie.

En dit was die begin van ‘n wonderlike belewenis met my klein rooimier.

Selfs met slaaptyd wou hy nie afskakel nie.  Hy het net sy ogies gerol en verbete teen die slaap baklei.  Hy is nou nog ‘n bondel energie.  So twee weke gelede, op sy troue, het hy geval vir die seremoniemeester se uitdaging en twee agteroor flips gemaak.   ‘n Mens kon maar net lag.  Tipies Charl.

Sy troudag was so kenmerkend HY.  ‘n Prokureur neem die plegtigheid waar.  Nie wààr nie…op die trappies voor die breë groen staldeur – die voordeur van die ou Kaapse herehuis.  Die jongklomp en ou klomp, ja die hele klomp gaste, speel croquet en boules en bou houtblokstapels wat plotseling inmekaar tuimel en in die agtergrond is daar ‘n ernstige tafeltenniskompetisie aan die gang.  Dit alles op die grasperk voor die ou plaasopstal.

Oumas en niggies bondel om die kitaarspeler saam en die kelners hou ons mae en ons glase vol.  Daar is ‘n kragonderbreking maar niemand kom dit eens agter nie.  Die miernes op die plaaswerf is goeie afleiding.

Pa’s en neefs filosofeer oor die wette van swaartekrag  en vriende skud oor en weer blad.  Verstommend  hoeveel sirkels raakvlakke het op hierdie troue.  Bo en behalwe die familie is dit  ou skoolkyse, klasmaats, gimnastiekmaats, perdrymaats en sommer net vriende.  Anneke het op die uitnodiging gesê hulle nooi almal wat hulle liefhet en dit was ook so.

Vir ons intieme familiekring was die hele naweek se samesyn op ‘n gasteplaas in die omtrek werklik iets besonders.  Die bruid het nogal daarvoor betaal.  Alle krane is wyd oop gedraai om hierdie troue ‘n familiefees te maak.

Ons het die Vrydagaand al streep-streep op die hoofplaas aangeland vir hamburgers in die tuin.  Vroeg reeds is die ys gebreek.  Hier en daar was daar ‘n bekende gesiggie wat ek op die kombuistee ontmoet het.

Soos enige geleentheid het ook hierdie een sy oomblikke gehad.  Teen slaaptyd het ons gehoor die gastehuis kan twee van ons nie die Vrydagaand akkommodeer nie.  Geen probleem.  Die bruidegom se ouers slaap sommer in die spaarkamer van die bruid se ouers.

Vrydagaand kry ek ‘n SMS van my tweelingsuster, met die vraag:  ”Wat het jy in Durban gedoen?” (met ‘n foto van ‘n glimlaggende donkerkop met die wangetjies, die grootraambril, die groot wit krale, ‘n swart-en-wit polkadot rok en my kenmerkende hande-in-die sy- met- ‘n -breë -glimlag houding.)  Kan nie wees nie! (Joanie se mond, maar die res is ekke!)

Dit blyk toe Miss Cupcake van Brittanje te wees, wat ‘n demonstrasie in Durban gegee het.  Identies.  Asof dit nie genoeg is dat daar reeds twee van ons in Suid-Afrika rondloop nie, nou nog ‘n derde?  Toegegee, sy is beslis effe jonger en ronder om die middelrif.  ‘n Mens kan nie help om te wonder nie.  Dalk familie?  Ouma was mos ‘n aangenome kind – Brits.

Saterdag is ons vroegoggend gasteplaas toe om saam met die res in te val vir ontbyt.  Daar was toe slaapplek vir ons ook, maar dis water onder die brug.  Gerhard en Ditta het ons gasvry ontvang en ons het lekker geslaap.

Saterdag was groot sports.  Al die pare het uitmekaargespat en Kobus het vir Annette en Louwrens, wat nog moes aansluit, gewag.  Ons het skaars elkeen ‘n paar grys wighakskoene gekoop, toe laat weet Kobus die kinders is hier.  Groot opgewondenheid om die twee, wat so pas vir Britse burgerskap gekwalifiseer het, weer te sien.  Ons het hulle laas op Anine se troue gesien.

Die res van die middag het ons naellak uitgeruil, saamgehekel aan ‘n teemus en aangelê vir ‘n braai by die swembad.  Hier en daar is nog ‘n kledingstuk gestryk voor die groot oomblik…Charl en Anneke se troue.

By die trouperseel was Anine en Nico eerste om by ons aan te sluit.  Al die pad van Namibië.  Nou was ons familie voltallig.  Ons was almal daar om die huweliksplegtigheid waar te neem

Saam kon ons aan die lang tafel onder die seile van die groot markiestent sit en net die oomblik geniet.  Dit was my rooikoppie se troudag!

9 thoughts on “1984: “Dis ‘n Rooikoppie!”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s