1977: ANDORRA

Andorra-die nie-fiktiewe weergawe!

‘n Stadstoer deur Barcelona het ontaard in ‘n angswekkende busrit (“a perilous drive”) op ‘n ongelooflike styl kronkelpad berg-op teen die hange van die Pireneesgebergte tot in Andorra.  Gelukkig het ons ons Suid-Afrikaanse paspoorte by ons gehad want Andorra is ‘n onafhanklike staat waar daar Spaans en Frans gepraat word.

Hierdie rit was beslis nie op ons reisplan nie.  So ook nie die erger rit die volgende oggend sewe-uur berg-af nie.  Daar was boonop die verswarende faktor-TYD. Vier treinkaartjies is reeds bespreek en betaal vir die volgende aandtrein vanaf Barcelona na Madrid.

Spaanse plebs met mandjiesvol lewende hawe (duiwe, hoenders en katte) het die bus volgepak en  moes plek maak vir vier geïrriteerde toeriste. ‘n Pa, ma en hulle verveelde 20-jarige tweelingdogters.  Wie sou kon voorsien dat die vooraand van die tweeling se mondigwording met ‘n tamatie-en hamtoebroodjie op ‘n bedompige, oorlaaide rammelkas oppad na ‘n internasionale ski-oord sou eindig?  Die toebroodjies het die rit nie oorleef nie.  Daarvan getuig die stilswyende, opgefrommelde, suur kardoessakkie op die leë bus se agtersitplek.

Die vier Suid-Afrikaanse reisigers het wel die rit oorleef.  Die twee studente het hulle een-en-twintigste verjaarsdag die volgende aand, 14 Desember 1977, om presies te wees, in die kompartement van die oornagtrein tussen Barcelona en Madrid, met kinderlike uitgelatenheid gevier.  Dit was so hittete of ‘n hoogtepunt het gesneuwel omdat die pa sy “Teach Yourself Spanish” in Pretoria vergeet het.

Die hele misverstand het sowat 10 uur die oggend in die kaartjieskantoor in Barcelona ontstaan.

“Parlé ingles?”, wou pa Dana optimisties by die kaartjiesverkoper weet?

“Nò”,koer die kropduiftantetjie agter die dik vensterruit.

“Parlé espanjol?”, vra sy doodluiters.

“Nò”, laat Pa hoor.

“Parlez-vous francais?”, waag die tweeling dit.

“Nò”, kom dit benoud agter die venster uit.

Nou kos dit kophou. Quattro is vier.  Billette is kaartjies. Torra klink soos toer…

“Quattro billette en torra de Barcelona!”, roep Pa triomfantelik uit

“Si!”, antwoord die kaartjiesverkoper bedeesd.

En daar koop ons vier buskaartjies vir ‘n drie-uur besienswaardigheidstoer van Barcelona (of immers, dis wat ons dog).

Eintlik moes die omstandighede ons gelei het…die passasiers was almal plaaslike mense,die bus se gordyntjies was oud , verblyk en verslete, daar was nie sprake van ‘n toergids nie en ons het na twee ure steeds volstoom vorentoe beweeg.

Op hierdie punt het Pa die kondukteur nader gewink.  Bevestig dat nie een van hulle ‘n taal praat wat hulle kan verstaan nie en hulle op handgebare en geradbraakte Engels van’n mede-passasier verlaat.  Die bus is nie ‘n toerbus nie.  Daar is geen sprake van terugkeer na die bushalte in Barcelona nie.  Ons was, saam met ‘n wavrag Spanjaarde, oppad na Andorra.

Andorra is oor die Spaanse grens.  Ons het paspoorte nodig.  Gelukkig het Pa ons die oggend teruggestuur hotelkamer toe om ons paspoorte te gaan haal, maar dit was die 70’s en ons was Suid-Afrikaners.  Ons kon maar net hoop op ‘n positiewe ontvangs, maar daardie brug sou ons oorsteek by die grenspos.

Die busrit was ‘n nagmerrie.  Die pad was nou, die bestuurders was roekeloos en die bus was maar wankelrig op sy wiele.  Uitdraaikans was daar nie.  Daar was net een pad.  Een styl bergpad boontoe.  Vir toeriste met engte-en hoogtevrees was daar geen genade nie, wat te sê vir die wat ly aan bewegingsiekte!

By die grens het die amptenaar die vier bleek passasiers vraend met sy skeweraambril aangekyk, om die beurt hulle paspoorte gevra en dit toe doodluiters gestempel:”ANDORRA”.

Verligting.  Die volgende uitdaging was blyplek.

Hotelle was daar volop en die goeie nuus was dat ons mekaar kon verstaan. Die eerste bus terug na Barcelona vertrek sewe-uur die volgende oggend.  Nee, die hotel bel nie mense wakker nie.  Nee, hulle voorsien nie wekkers of handdoeke nie.  Ja, ons kan die hotel in Barcelona bel en ja die winkels is nog oop, maar dan moet ons spring want hulle sluit binne vyftien minute.

Dit was met gemengde gevoelens wat ons die aand in die Franse hotel geniet het.  Ons was verlig om die volgende oggend op die  ongerieflike bus te klim.  Van Andorra kon ons niks sien nie.  Ons het in die donker daar aangekom en ons is in die donker daar weg.

Terug in Barcelona het ons ietwat verkreukeld ons Spaanse hotel binnegestap, ons koffers laat haal en vir oulaas Barcelona geniet.  Ons het met nuwe oë na die graffiti teen die winkelmure gekyk…”Baske!”, sê Pa.

“Baske?”, laat ons fronsend hoor.

“Ja, die mense van die Pirenees.”, antwoord Pa half afwesig.

“Pa bedoel, die mense wat saam met ons op die bus was?!”, wou ons angstig weet.

“Ja.  Die moontlikheid is nie uitgesluit nie”, kom dit stug van Pa.

Hy was bewus van die onderliggende politieke spanning tussen die Baske en die Spaanse regering.’n Stukkie kennis wat hy met baie selfbeheersing van sy kwesbare gesin weerhou het.  Pa.  Liewe Pa.

Teen skemer is ons sak en pak stasie toe.  Reg vir die langverwagte treinrit van Barcelona na Madrid. Op die stasie het ons ‘n ou man en ‘n handvol seuntjies verbaas aangestaar.  Die ou man het sy hande ritmies begin klap en die seuns het in harmonie saamgeklap.  Wonderbaarlik.

Die oornagtrein met sy aangrensende kompartemente het mens herinner aan Agatha Christie se “Murder on the Orient Express”.

Die portier was dadelik inskiklik om ons teen middernag wakker te maak.  Middernag is die goue polshorlosietjie en die Lladro pottebakkersnonne plegtig in die trein aan twee opgewonde dames,wat so pas die wêreld van die volwassenes betree het, oorhandig.

Wat ‘n beter manier om dit te vier as met ‘n Europese reis wat al die lande van herkoms insluit en Spanje en Andorra!

5 thoughts on “1977: ANDORRA

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s