1971: Koshuisinsidente

Ek steier om te dink watter prentjie in die gedagtes van die geëerde koshuisdames van Afrikaans Hoër Meisies gedraai het die Sondagmiddag, kort voor afsnytyd, toe die outydse sedan met die Rustenburgse registrasienommer, vol opgeskote kinders, twee tienerdogters en ‘n effens tam egpaar voor Weshuis se voordeur geparkeer het.

Beslis nie die toonbeeld van welvaart nie.  Veral nie die reuse vlekvrye staal gevangenistrommel waarmee die benerige aspirant standerd sessies die twee stelle trappe op gespook het nie.

Die koshuiskamer was onpersoonlik.  ‘n Ysterkatel,‘n bedkassie en ‘n small ingeboude “locker” vir elke dogter in die kamer.  Sewe stelle, om presies te wees.  Hierdie Spartaanse kamer was sewe standerd ses dogters se voorland vir die res van hulle eerste jaar op hoërskool .

Na die oor en weer groetery en ‘n handskuddery met ons familie, het die seniors ons op die grasperk voor Ooshuis aangetree en op wurm aandag gebring.  Wurm aandag: voete plat op die grond met die  groottone na binne, regterarm soos ‘n lugdraad in die lug en linkerarm geknak met die duim in die mond.

Fataal vir Joanie, wat met ‘n bloedblaas aan die verhemelte sit na ‘n ortodontiese sessie.  Sy maak toe boonop die fout om Gisela Röhrbeck “Geyser” te noem. Die gort gaar toe ek  verbrands parmantig tot haar verdediging toetree.

Die gevolg?  Vyf pare skoolskoene om elke aand te borsel teenoor die res van die  wurms se twee.

Dit was nie die einde van die verleenthede nie.  Ons het die hele ses maande se klerevoorraad met die  intrapslag in die staaltrommel ingedra.  Dit het die hele reeks voorgeskrewe skooldrag en gewone klere -somer en winter- ingesluit.  Ons het elkeen vier rokke (waarvan ons net twee in die week afgewissel het) en twee truie gehad.

Die twee weeksrokke was een groen katoenrok met ‘n prominente ritssluiter van die kuiltjie tot by die naeltjie.  Die ander een was van Crimpelene, dit was ligpers en het, nes ‘n bliksoldaatjie, ses oorgetrekte  pers knope al langs die prinseslyne af gehad.  Hierby het ons om die beurt die rooi of groen woltruie, wat Ouma gebrei het, gedra.

Dit was toe Joanie nie op Gisela se roep reageer nie, wat die rooi gesiggies weer opgevlam het.  Joanie was die dag in die studiesaal en toe Gisela die wurm met die groen rok roep, het Joanie bly sit.  Gisela het haar later daar gaan uithaal.  Toe sy vererg vra hoekom Joanie nie uitgekom het nie, was Joanie se gelate antwoord,”Maar ek het nie vandag my groen rok aan nie.”

Nog een van Joanie se verleenthede was die episode met die nat vlieg.  Elke ete was dit die wurm aan tafel se plig om sap of melk te skink.  Dié dag was dit melk.  Dit was Joanie se beurt.  Nadat almal hulle melk opgedrink het, gewaar een senior die nat vlieg in Joanie se kleinbordjie.

“En dit?”, wou die senior weet.

“Die vlieg het bo-op die beker melk gedryf, toe skep ek  dit eers af ”, kom dit hees van ‘n bloedrooi Joanie.

Dan was daar die vetkolle op die biblioteekboek.  As daar nou een ding was wat die biblioteekjuffrou nie genoeg kon beklemtoon nie, was dit dat ons die biblioteekboeke in dieselfde toestand moet inhandig as wat ons dit gekry het.  Ek het een aand die fout gemaak om my beskuit op die toe boek neer te sit en te slaap.  Die volgende oggend het daar ‘n vetkol op die boek se buiteblad gesit.  ‘n Week het verbygegaan voordat ek die boek teruggevat het…en dit nadat ek bensien en wie weet wat nog probeer het om die vlek uit te kry.  Ek kon nie glo dat die juffrou meer te kere gegaan het oor die boek laat is as oor die vetkol nie.

Al hierdie koshuisinsidente het hulle merk gelaat.  Vandag reis ons nie een graag met ‘n trommel nie, ons is mal oor ‘n verskeidenheid klere, ons hanteer biblioteekboeke met die grootste omsigtigheid en ons loop wye sirkels om enige iemand wie se naam naastenby soos Gisela Röhrbeck klink.  Sou dit dalk verklaar hoekom ek lugtig vir Dowwe Dolla, aldus Margit-Meyer-Rodenbeck is?

1 thought on “1971: Koshuisinsidente

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s