1966 Die Onse Vader

Vandag se kinders woon mos nie meer troues by nie.  Dit was nie so in ons kinderjare nie.  Daar was nou wel nie sprake van skuurdanse nie, want ons het nie een oupa met ‘n plaas gehad nie.  Wat ons wel gehad het is twee oupas wat mal was oor musiek!

Dit was dan ook nie snaaks nie, dat ons vele familietroues en jolige familie-onthale bygewoon het.  Toesprake, kos, sang en langarm dans was familie tradisie.  Albei ons oupas en oumas het immers op danse ontmoet!

So was dit dan dat ons aan meer as een familietroue deel gehad het.  As ons nie klein blommemeisietjies met wyerandhoede was nie, was ons strooimeisies met opgeklitste hare.  En toe daar nie ‘n gevolg was nie, soos in die geval van oom Boetie se troue, het ons op die kerkbankie voor die orrel gestaan en “Die Onse Vader” gesing.  Ons het dit ook nie sommer so gesing nie, ons het in stemme gesing.  Dis hier waar die fout ingesluip het.

Joanie moes die wysie sing en ek die deskant.  Dit was nie ‘n probleem nie.  Ons het instinktief in stemme gesing as ons lang ente in die kar ry.  Sing was vir ons tweede natuur.

Toe ons gevra is om die lied te sing terwyl die trouringe oorhandig word, was ons nie een baie lus nie.  Maar ons het splinternuwe blommemeisierokke gehad vir ’n troue wat ons nie kon bywoon nie en hier was ons kans.

Daar was egter een voorwaarde:  as een mens omkyk, hou ons op met sing!  Dit was ‘n saak van onmoontlikheid.  Toe ons inval met “Die Onse Vader” het die trougaste hier en daar begin omkyk.  Dis net hier waar Joanie besluit het om summier stil te bly.  Dit het so onverwags gebeur dat ek onkant gevang is. Ek het  alleen die deskant en Joanie met die wysie het opgedroog!   Ek het met ‘n redelike rooi gesig deurgedruk met die laaste hoë note “…vir ewig en ewig, A-ha-men!”

Dit was die einde van ons openbare sangloopbaan.

2 thoughts on “1966 Die Onse Vader

Leave a comment