Snaaks hoe sekere insidente bly vassteek. Soos die oggend toe ons in die skoolsaal gehoor het Dr Verwoerd is dood. Dit was September 1966. Ons was maar agt jaar oud, maar veral toe die juffrou Die Stem begin speel en almal plegtig op aandag staan en saamsing, het die doodsbesef ons getref en het ons onbedaarlik saggies begin huil.
In ons geestesoog het ons Republiekdag in 1964 in dieselfde skoolsaal herleef. Republiekdag toe ons Die Stem, hoendervleis mooi ,op die stellasies op die verhoog gesing het, kiertsregop bly staan het en die see van gesigte op die vloer gefynkam het vir een bekende. Een geliefde bekende. Pappa.
***
Op daai tydstip het ons op koorbankies gestaan
Loodreg soos soldaatjies, skoon aangedaan
Ontsag vir die Volkslied is by ons ingedril
Vandag nog sien ek Die Stem deur my kleintyd bril
Twee paar bruin ogies het hom koorsagtig gesoek
Dit was Republiekdag – oop dag vir ouerbesoek
Toe sien ons hom!
Die seegroen V-nek nylontrui
Het skielik lewe gekry
Hy het breed geglimlag,
Een oog geknip
EN TOE SING ONS EERS!!
***
Maar vandag, in hierdie saal, met hierdie lied, is ons half-wees, want Pappa is in Desember 1964 dood. Nie berekend vermoor soos Dr Verwoerd nie, maar aan die hand van ‘n ander man se nalatigheid. Nou huil ons. Twee van die min laerskooldogtertjies wat die finaliteit van die dood verstaan. Vir altyd buite jou bereik. Weg.
Ai Letty-Anne, dit is so hartseer. En so mooi. En ja, ek kyk ook met my skoolkind bril na die stem. Mens staan op aandag as dit gesing word. Altyd.
LikeLike
Ai hartseer
LikeLiked by 1 person
Ja en tog was pappa daar vir ons vormingsjare. Hy bly ‘n mooi herinnering.
LikeLike
So hartseer!
LikeLike