Inwoners: no18

Kwiltfoto is op internet geleen.

Hierdie hoofstuk vorm deel van die Towerinne se Rebusfontein avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en  onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz- skakel:

https://fresh.inlinkz.com/party/942da9e9f0524c6b982439c66ccceced1?visitor3

lees by skakel hierbo meer oor die waterverfskilder wie se kleurvolle sketse hier verskyn.

Historiese agtergrond van Inwoners van Towerinstraat no 18.

1988 – 1992: Betsie van Wyk

1992 – 1997: Elaine Lamonte

1998: Maeve en Kathryn Smythe

1999 – 2010: Pauline de la Rey

2011 – 2018: Marthie Beeslaar

2019: Vakant

2020 tot nou: Tommie en Aalsie Malherbe

Hier volg ‘n meer gedetaileerde beskrywing van die inwoners van nommer agtien…

Die eerste eienaar was Betsie van Wyk, oorspronklik van Kimberley. Sy het in 1988 ingetrek. Toe ontmoet sy die Zimbabwiër, Bob, met sy vier kinders en hulle emigreer na Engeland.

Toe trek ou Tannie Lamonte, ‘n bejaarde Franse immigrant, daar in. Sy het graag op die voorstoepie gesit en hekel, maar een aand het ‘n groot ramp haar getref. Sy het aan die slaap geraak in die bad, wakker geskrik toe sy begin koud kry en groter geskrik toe sy besef sy kannie uitklim nie. Al die badwater het uitgesypel en daar sit die stomme tante in haar leë bad vas. Vasgesuig! Haar benoude geroep het haar jong buurman se aandag getrek. Dié het behendig deur haar klein badkamervenster ingewurm, ‘n groot badlaken oor haar gegooi en haar uitgelig. Sy is eindelik in dié huisie dood. Dit was 1997.

In 1998 het die maltrap kunstenares, Maeve en haar dogter, Kathryn ingetrek. Maeve is ‘n boorling van die Oos-Kaap. Kenmerkend van Maeve was dat haar klere vol verf was. Maeve het geglo, as haar lippe bloedrooi ingekleur was, was sy reg vir uitgaan – aan die verfkolle op haar klere het sy haar min gesteur! Hulle het nie lank gebly nie toe Maeve besluit het om in ‘n kunstenaarskommune op Simonstad te gaan bly. Kathryn is saam.

1999 tot 2010 het Pauline daar ingetrek. Pauline het die vermoë gehad om kleuters te verseker hulle het haar volle aandag terwyl sy volstoom met hulle ouers gesprek gevoer het (sy het die kleuter se hand vasgehou met die gerusstelling, “Solank juffrou jou hand vashou,wéét ek van jou maar mag jy nie praat nie, want juffrou praat met mamma.. Sodra juffrou jou hand los, kan jý met juffrou gesels”). Sy en haar opgeskote Maltese poedel, Annie, was kortstondige inwoners op Rebus. Pauline het net wit hemde met kragies gedra want sy was ‘n juffrou. Sy het net naweke uitgekom Rebusfontein toe want haar kleuterskooltjie (en ‘n plaaslike wewenaar) het haar vreeslik besig gehou. Sy en die vlerksleper is later getroud en sy het saam met hom en sy ses kinders ‘n nuwe huis elders gaan bou.

Marthie, die ongekunstelde langbeenmeisie van Lyttelton, het ná Pauline in Towerinstraat nommer 18 kom woon. Marthie was gek oor bome. Sy het 18 beekboompies in ‘n sirkel in die agtertuin aangeplant. Dit staan nóú nog daar. Sy het tot 2018 aangebly en haar nagraadse studies op Rebusfontein voltooi. Daarvandaan het haar loopbaan opwaarts spiraal en is sy weg Stad toe.

Sedert Marthie daar weg is, het die huisie met die 18 beekhoutbome stoksielalleen en dolleeg bly staan en toe, in 2020 kom Tommie en Aalsie en gee die plek sy eie naam, ‘Twins’ Cottage’. Aalsie is een van die Malherbe-tweeling. Oud-Stellenbossers, albei ewige studente, skeppend, diepsinnige méns mense. Tommie is Aalsie se ‘Cocker Spaniel’. Die ander tweelingsussie, Joanie, kom kuier gereeld met háár hond, Bismarck, ‘n Snautzer. Tommie is nie ‘n baie goeie gasheer nie, maar die tweeling bestuur hierdie kruitvatsituasie besonder goed.

Twins’ Cottage, Tommie én Aalsie kry nou lekker lyf en ek voorspel ‘n lang en gelukkige verblyf.

9 thoughts on “Inwoners: no18

Leave a comment